Rafa glimlag weer groot

Rafael Nadal glimlag groot ná sy puik vertoning in Melbourne. Foto: Twitter.

Rafael Nadal het weer ’n toernooi gewen nadat ’n voetbesering hom vir ’n paar maande langs die baan gehou het.

Die 35-jarige hotklou het op die vooraand van die Australiese Ope in Melbourne die Summer Set 1-toernooi in die einste stad gewen toe hy vir Maxime Cressy van die VSA in die finaal geklop het.

Die telling was 7-6 en 6-3 in die Spanjaard se guns.

“Ek is baie dankbaar om die seisoen met ’n titel af te skop. Dit is baie spesiaal, veral as jy in ag neem wat alles in die aanloop daartoe gebeur het,” het Nadal gesê.

Die voormalige wêreldno. 1-speler het verlede jaar onder meer die Olimpiese Spele en Amerikaanse Ope misgeloop, terwyl hy ook positief vir Covid-19 ná ’n paar vertoonwedstryde in Abu Dhabi getoets het.

Volgens Nadal het hy soms gewonder of hy ooit weer sy tennistalent op die groot verhoog sal kan uitstal.

“Ja, daar was natuurlik dae waar twyfel die oorhand gekry het. Ek kan beslis nog verbeter, maar ek werk baie hard aan my spel.”

Die vurige Spanjaard het tans 20 Grand Slam-titels agter sy naam en hoewel hy sy beste in elke toernooi gee, bly die Franse Ope maar sy gunsteling.

Die “Koning van Klei” was verlede jaar goed op koers om sy 14de titel in Parys te wen, maar hy is deur ’n veglustige Novak Djokovic in die halfeindstryd geklop.

“Ek brand om in 2022 weer die Franse Ope my toernooi te maak,” het hy vroeër in ’n onderhoud gesê.

Maar vir eers geniet hy dit om net weer terug op die internasionale verhoog te wees.

“My mikpunt is om 100% fiks te wees en om die hele seisoen te kan speel. Dit is nie lekker om vir vyf of ses maande op die krukkelys te wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.