Rafa jag sy 11de Italiaanse titel

Rafael Nadal. Foto: Twitter.

Rafael Nadal het sy veldtog om ’n 11de titel in Rome te wen met ’n stewige vertoning teen John Isner begin.

Die 35-jarige speler het die kragmeting met 6-3 en 6-1 gewen en sal later vandag in die volgende ronde van die Italiaanse Ope teen Denis Shapovalov te staan kom.

Die ongekeurde Isner het hom aanvanklik goed van sy taak gekwyt teen die verdedigende kampioen, maar Nadal het begin beter speel soos wat die wedstryd gevorder het.

“Ek het net probeer aanhou baklei. Ek weet dat ek beter kan speel en ek sal beslis oefen sodat ek met elke wedstryd kan verbeter,” het Nadal gesê.

Die Spanjaard sien uit na die herontmoeting met Shapovalov; die twee was juis verlede jaar in ’n titaniese stryd gewikkel en Nadal het destyds uiteindelik ná meer as drie uur as die wenner van die baan gestap.

“Verlede jaar se wedstryd was eintlik ’n frats. Ek moes hard baklei en ek was eintlik gelukkig om die wedstryd te wen. Denis is ’n baie gevaarlike speler en ek sal weer eens op my beste moet wees om hom te klop.”

In ander aksie het die 37-jarige Stan Wawrinka sy plek in die volgende ronde (waar Novak Djokovic vir hom wag) bespreek toe hy vir Laslo Djere met 7-6, 3-6 en 6-4 geklop het.

Die Switserse speler kon nog net ses van sy 25 wedstryde teen Djokovic wen.

  • Uitslae:

Alexander Zverev klop Sebastian Baez met 7-6 en 6-3

Karen Khachanov klop Pablo Carreno Busta met 6-4, 2-6 en 6-1

Stefanos Tsitsipas klop Grigor Dimitrov met 6-3, 5-7 en 7-6

Marcos Giron klop Diego Schwartzman met 6-1 en 7-6

Stan Wawrinka klop Laslo Djere met 7-6, 3-6 en 6-4

Marin Cilic klop Cameron Norrie met 5-7, 6-2 en 6-1

Jannik Sinner klop Fabio Fognini met 6-2, 3-6 en 6-3

Iga Swiatek klop Elena-Gabriela Ruse met 6-3 en 6-0

Danielle Collins klop Simona Halep met 7-6 en 6-3.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.