Ralf reken Lewis maak soms die pap té dik aan

Lewis Hamilton. Foto: Maxim Shemetov/AFP.

Ralf Schumacher, die voormalige F1-renjaer, meen dat Lewis Hamilton se nekbesering nie so ernstig was as wat hy voorgee nie.

Hamilton en Max Verstappen was tydens die Italiaanse Grand Prix in ’n ongeluk, met die Red Bull-renjaer se motor wat bo-op die Mercedes tot stilstand gekom het.

Verstappen se regteragterband het Hamilton se kop rakelings gemis en al twee renjaers se wedren was verby.

“Ek is so dankbaar dat ek steeds hier is. Ek voel ongelooflik geseënd dat iemand vandag oor my gewaak het. Ek dink nie ek is al ooit deur ʼn motor op die kop getref nie en dit was nogal ʼn groot skok vir my,” het Hamilton ná die afloop van die wedren gesê.

Die verdedigende wêreldkampioen het ook oor nekpyn gekla, terwyl hy verder ontevrede was omdat Verstappen nie eers gestop het om te kyk of hy oukei is voordat hy vies terug na sy span gestap het nie.

Maar sê Schumacher, die Mercedes-renjaer is dalk besig om ’n berg van ’n molshoop te maak – veral wat die besering betref.

“Ek dink Lewis was dalk ’n bietjie oordramaties, veral wanneer jy in ag neem dat hy die volgende dag sonder enige probleme na New York gevlieg het,” het Schumacher gesê.

Hy reken ook dat Toto Wolff (Mercedes-spanbaas) dalk ’n bietjie oorbeskermend jeens Hamilton is.

“Elke keer wanneer daar ’n bietjie kritiek is, sê hy onmiddellik dat ’n mens nie só met ’n sewemalige wêreldkampioen moet praat nie.

“Ja, Lewis is ’n wonderlike renjaer, maar hy is ook net ’n mens en daar word soms te min aandag aan sy tekortkominge geskenk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Afriperd ·

100% Reg, Hoe baie keer het ander F1 renjaers nie al ongelukke gemaak teen hoe spoed teen iets vas ry en dan stap die manne weg van dit af. Maar n “stadige” ongeluk en arme Hamilton is amper dood soos hy aan gaan. Kry hom tog net jammer.

Anton ·

Gelukkig was die band swart. As die band wit was, het Useless Hamilton weer rassisme gegil

Frank ·

Moet ons werklik kommentaar lewer. Ons ken mos die hele storie. Ons ervaar dit elke dag.

Daizee ·

“………maar hy is ook net ’n mens en daar word soms te min aandag aan sy tekortkominge geskenk.”………….” — ai!!, is dit nou nie mooi gestel nie!!!! :-) :-) :-)

Eclectus ·

Ek het onlangs ‘n video gekyk oor die huidige F1 jaers van hoe hulle opgekom het tot F1. Ek hou nou maar een maal nie van Lewis nie en as mens kyk hoe bedorwe hy eintlik grootgeword het, hoe sy pa alles opgeoffer het om hom op die hande te dra, kan mens verstaan waar sy grootheidswaan vandaan kom.

koos10 ·

Jacques, dis 100% waar, maar ons moet inag neem dat hy gelyk staan aan Micheal Schumacher, met 7 wêred kampioenskappe. Dit sit nie in enige man se broek nie. Hy is bitter goed, en soos dit maar soms gaan, gaan die sukses kop toe. Micheal het ook daaraan gelei. Hy wou oponente met die vuis bydam, hulle van die baan af ry en bitter agresief gewees. Sy grootste fout is om politiek in die sport in te bring, en die F1 base kon hom nie teen gaan nie, want sy span en hyself sorg vir baie geld in die sport.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.