Red Bull het ook vlerke in Formule Een

Max Verstappen. (Foto: AP Photo/Frank Augstein, Pool)

Dit was Sondag pure goud vir die Red Bull-renspanne in Formule Een én in MotoGP.

Eers het die Suid-Afrikaner Brad Binder van die Red Bull KTM-span die motorfietswêreld wakker geskud met sy eerste sege in sy eerste jaar in MotoGP in die Tsjeggiese Republiek se ren. Max Verstappen het ʼn rukkie later op die Silverstone-renbaan in Engeland die kroon gespan in Formule Een se 70ste herdenkingsren toe hy eerste verby die geruite vlag gejaag het.

Die Red Bull-span het Mercedes takties met hul bande-strategie uitoorlê, veral toe Mercedes verlede week op dieselfde baan grys hare bygekry het nadat Lewis Hamilton en Valtteri Bottas lekbande opgedoen het.

Hamilton was verlede Sondag wel eerste, maar Bottas se drome is kort voor die einde gekelder toe hy moes bande omruil en 11de geëindig het.

(Foto: Bryn Lennon, Pool via AP)

Hamilton was Sondag tweede, Bottas derde, gevolg deur Charles Leclerc (Ferrari), Alexander Albon (Red Bull) vyfde en Lance Stroll (Racing Point) sesde.

Daar was darem ʼn bietjie troos vir Hamilton, want hy het die 155ste keer op die podium gestaan om Michael Schumacher se rekord te ewenaar en hy het ʼn bonuspunt ingesamel nadat hy die vinnigste rondetyd opgestel het.

Hamilton (107 punte) is steeds baie ver voor op die puntelys, gevolg deur Verstappen (77), Bottas (73), Leclerc (45), Lando Norris (38) en Albon (36).

Lewis Hamilton. (Foto: AP Photo/Frank Augstein, Pool)

Maar volgende Sondag volg die Spaanse Formule Een-ren in Barcelona, waar dit na verwagting weer baie warm gaan wees.

Die Mercedes-span het beslis bandeprobleme wanneer dit warm raak, letterlik en figuurlik. Hulle sal hul strategie van bande omruil en kuipestoppe moet heroorweeg, veral omdat Red Bull nou hul neuse voorgekry het.

Verstappen (nege oorwinnings) het boonop nou meer F1-seges as Bottas behaal en dit spreek boekdele vir Red Bull.

*Sebastian Vettel (Ferrari) se loopbaan het ʼn verdere knou gekry toe hy in die eerste ronde van die baan gejaag en sy span toe gekritiseer het. Hy het 12de geëindig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack ·

En toe moes Hamilton die knie buig waar hy dit nie graag sou wou gedoen het nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.