Roger Federer wil weer Olimpiese Spele toe gaan

Roger Federer. Foto: (AP Photo/Pavel Golovkin)

Roger Federer is normaalweg nie ’n man wat sommer doekies omdraai nie en wanneer hy sê hy wil iets doen, is die kanse baie goed dat hy daad by woord sal voeg.

Nou wil die Switserse tennisster vir die vyfde keer in sy roemryke loopbaan na die Olimpiese Spele gaan.

Die 38-jarige Federer is reeds die wêreld se suksesvolste manstennisspeler – as daar van Grand Slam-titels gepraat word – in menseheugenis en hy sal graag nóg ’n trofee by sy indrukwekkende versameling wil voeg.

Dit is nou natuurlik as sy fiksheid saamspeel.

“Ek het in my hart besluit dat ek graag weer aan die Olimpiese Spele wil deelneem,” het Federer gister in Tokio gesê.

Hy het sy Olimpiese debuut vir Switserland in 2000 in Sydney gemaak – waar hy ook sy vrou, Mirka, ontmoet het – en het vierde in die enkelspelkampioenskap klaargemaak.

Vier jaar later was hy ook in Athene in aksie, voordat hy saam met Stan Wawrinka gekombineer het om die goue medalje by die Bejing-Spele in 2008 te wen.

Federer het sy Olimpiese opmars in 2012 voortgesit toe hy die silwer medalje as enkelspelspeler in Londen gewen het. Hy het egter die Spele in Rio de Janeiro weens ’n besering misgeloop.

“Indien my fiksheid saamspeel, is ek sonder enige twyfel in Tokio. Ek dink nou al vir ’n hele paar weke oor my deelname en om eerlik te wees; ek probeer meer om my skedule as enigiets anders in orde te kry.

Volgens Federer was hy teleurgesteld om die 2016 Spele weens ’n kniebesering mis te loop.

“Elke Olimpiese Spele is ongelooflik spesiaal en ek is bly ek kon in Tokio – die gasheerstad vir aanstaande jaar se Spele – hierdie aankondiging maak.”

  • Federer en Rafael Nadal sal op 7 Februarie 2020 ’n vertoonwedstryd in Kaapstad speel. Die wedstryd sal ten bate van Federer se liefdadigheidsorganisasie wees. Kaartjies is egter binne minute uitverkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.