Rune rol Ruud in Rome

Holger Rune het na die eindstryd van die Italiaanse Ope deurgedring. (Foto: Filippo Monteforte/AFP)

Holger Rune – die man wat Novak Djokovic in die kwarteindstryd uitgeskakel het – het na die eindstryd van die Italiaanse Ope in Rome deurgedring.

Hoewel die 20-jarige speler die eerste stel verloor het, het hy teruggeveg om die kragmeting met 6-7, 6-4 en 6-2 te beklink.

“Ek het eintlik niks gehad om in die tweede stel te verloor nie en ek het bloot vir myself gesê om die wedstryd te geniet; dit mag dalk my laaste wedstryd in die toernooi wees,” het Rune gesê.

Hy erken dat sy hernieude aggressie die sleutel tot sy terugvegpoging was.

“Ek dink ek het van my beste tennis in die afgelope twee wedstryde teen Novak en Casper opgedis. Hulle is moeilike teenstanders en ek moes diep delf om te wen. Ja, ek het vandag gesukkel, maar ek het tog ʼn manier gevind om die bordjies te verhang.”

Djokovic het vroeër erken dat Rune en kie die toekoms van wêreldtennis is.

“Holger is ʼn baie talentvolle en dinamiese speler. Hy was doodeenvoudig nou te goed vir my gewees,” het die Serwiese ster gesê nadat hy die knie voor sy jong teenstander gebuig het.

Rune sal môre sake om die titel uitspook. Stefanos Tsitsipas en Daniil Medvedev speel in die ander halfeindstryd.

Medvedev geniet tans ʼn voorsprong van 3-1 in die eerste stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

“Rune Rol Ruud in Rome”

Beste ooit!
Die alliterasie-standaard raak te hoog om te handhaaf.
;-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.