SA speler koningin van die doelsirkel

Ine-Marí Venter het ook ’n uithalervertoning vir die Proteas in die afgelope internasionale vierhoekige reeks in Londen gelewer. Foto: Twitter via Saracens Mavericks.

Statistieke is waarskynlik nie die enigste maatstaf waarvolgens jy ’n speler se waarde op ’n netbalbaan kan meet nie.

Faktore soos veggees, ’n positiewe ingesteldheid en ’n speler se vaardigheid speel seker ook ’n rol, maar goeiste: Soms kan statistieke vir indrukwekkende leesstof sorg.

Suid-Afrika se Ine-Marí Venter is tans die suksesvolste doel in Engeland se Vitality-netbalreeks. Die Protea-ster is reeds met 140 doelpogings in die kol nadat sy weer eens vir die Saracens Mavericks uitgeblink het.

Sy was vir 43 van haar span se doele in hul sege van 53 – 51 teen die London Pulse verantwoordelik. ’n Week of wat gelede het sy ook teen die Celtic Dragons uitgeblink – 55 doele in een wedstryd is glad nie te versmaai nie.

Venter het al kuipstoppe by die Gauteng Jaguars, Melbourne Vixens en Queensland Firebirds in haar eersterangse netballoopbaan gemaak. Maar die tyd in Engeland maak haar opgewonde.

“Die grootste verskil is dat ek hier baie meer baantyd kry. Dit is die eerste keer dat ek vir langer as ’n seisoen by ’n betrokke span bly en ek sien uit daarna om op die span se vertoning van 2021 voort te bou,” het sy destyds in ’n onderhoud met Maroela Media gesê.

Dan het Lefébre Rademan 16 doele vir die Celtic Dragons in hul wedstryd teen die Lougborough Lightning aangeteken.

Die Dragons het egter die wedstryd met 65 – 37 verloor.

Meeste doele in die Vitality Superliga:

  1. Ine-Marí Venter (Saracens Mavericks): 140
  2. Joyce Mvula (Manchester Thunder): 132
  3. Assaindey Olivia Tchine (London Pulse): 126
  4. Peace Proscovia  (Surrey Storm): 97
  5. Georgia Rowe (Celtic Dragons): 92.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

johan ·

Dis nie die aantal doele wat jou goed maak nie maar die persentasie doele wat jy ingooi met die kanse wat jy kry, dus jou akkuraatheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.