Serena ook uit Australiese Ope

Serena Williams. (Foto: Adam Hunger/AP)

Die 40-jarige Serena Williams het haarself aan nóg ’n groot tennistoernooi onttrek toe sy vandag aangekondig het dat sy nie deel van die Australiese Ope vroeg in die nuwe jaar sal wees nie.

“Ek het op die aandrang van my mediese span besluit om my aan die Australiese Ope te onttrek. Dit is nooit ’n maklike besluit om te neem nie, maar ek is fisiek nie waar ek moet wees om deel te neem nie,” het Williams gesê.

Die Amerikaner het sewe van haar 23 Grand Slam-titels in Melbourne gewen en sy beskou die Australiese Grand Slam as een van haar gunsteling-toernooie.

“Dit is een van my hoogtepunte om daar deel te neem en ek gaan die ondersteuners beslis mis. Tog sien ek daarna uit om eendag terug te keer en weer op die groot verhoog in aksie te wees.”

Williams het in Junie laas ’n mededingende wedstryd gespeel toe sy Wimbledon in trane verlaat het.

Die voormalige wêreldno. 1-speler was toe in aksie teen Aliaksandra Sasnovich in haar openingswedstryd van dié gewilde toernooi in Engeland. Sy het met 3-1 in die eerste stel voorgeloop voordat sy gegly en haar regterbeen beseer het.

Nadat sy mediese behandeling ontvang het, het sy nog vir ’n pot of twee voortgeveg, maar met die telling op 3-elk die handdoek ingegooi. Dit was die eerste keer in 20 Wimbledon-toernooie dat sy nie verder as die eerste ronde gevorder het nie.

Die Australiese Ope word van 17 tot 30 Januarie 2022 in Melbourne beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack ·

Kom ons haar krediet wat haar toekom, op haar beste was sy werklik formidabel. Maaar daar is ‘n tyd vir alles: een om te kom en een om te gaan. Ek dink nog steeds Steffi Graf was die beste en ook die mees voorbeeldigste. Geen groot ego, geen slagoffer mentaliteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.