Sergio pronk in die kollig

Sergio Perez het vir ’n vuurwerkvertoning gesorg. Foto: Twitter.

Red Bull is op koers om George Russell se voorspelling – dat die span elke liewe wedren vanjaar kan wen – ʼn werklikheid te maak ná nog ʼn topvertoning in Saoedi-Arabië.

Maar nadat Max Verstappen vir so lank die hoofrol vertolk het, was dit nou Sergio Perez se beurt om die kollig te steel.

Die Mexikaanse renjaer moes vroeg ʼn aanslag van Fernando Alonso afweer, terwyl hy later ook moes uithaal en wys om te sorg dat sy spanmaat in sy truspieëltjie bly. Hy het egter oudergewoonte weer sy vaardighede op ʼn straatrenbaan uitgestal om die wedren met meer as vyf sekondes te wen.

Terselfdertyd verdien Verstappen ook ʼn klop op die skouer vir die wyse waarop hy van die 15de plek op die wegspringrooster sy pad na die podium oopgeveg het.

Maar die aand het beslis aan Perez behoort.

Dit was sy beste vertoning nóg as Verstappen se spanmaat en Christian Horner het die Mexikaanse renjaer vir sy bestuurvernuf geloof.

Tog het Verstappen – wat met tegniese probleme gesukkel het – belowe dat hy weer terug sal wees.

“Vanuit ʼn spanoogpunt is ons almal baie gelukkig, maar ek sal beslis beter wil doen. Ek is nie hier om tweede te eindig nie,” het hy gesê.

Dan het Fernando Alonso vir die 100ste keer in sy F1-loopbaan op die podium gestaan toe hy die wedren in die derde plek voltooi het.

Daar was aanvanklik vrese dat hy die plek ontneem sou word nadat wedrenbeamptes hom ʼn keer of twee met ʼn paar sekondes beboet het, maar sy plek is uiteindelik weer aan hom toegeken.

“Ons het weer eens gewys dat ons die tweede vinnigste span kan wees en ek is baie tevrede met die spoed wat ons gedurende die wedren gehandhaaf het,” het Alonso gesê.

Uitslae:

  1. Sergio Perez (Red Bull)
  2. Max Verstappen (Red Bull)
  3. Fernando Alonso (Aston Martin)
  4. George Russell (Mercedes)
  5. Lewis Hamilton (Mercedes)
  6. Carlos Sainz (Ferrari)
  7. Charles Leclerc (Ferrari)
  8. Esteban Ocon (Alpine)
  9. Pierre Gasly (Alpine)
  10. Kevin Magnussen (Haas)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 44 punte
  2. Sergio Perez: 43 punte
  3. Fernando Alonso: 30 punte
  4. Carlos Sainz: 20 punte
  5. Lewis Hamilton: 20 punte
  6. George Russell: 18 punte
  7. Lance Stroll: 8 punte
  8. Charles Leclerc: 6 punte
  9. Valtteri Bottas: 4 punte
  10. Esteban Ocon: 4 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 87 punte
  2. Aston Martin: 38 punte
  3. Mercedes: 38 punte
  4. Ferrari: 26 punte
  5. Alpine: 8 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.