Sinner neem weerwraak teen Djokovic

Jannik Sinner het sy Davisbeker-wedstryd teen Novak Djokovic gewen. (Foto: X/ATP)

Skaars ʼn week nadat hy met 6-3 en 6-3 teen Novak Djokovic in die eindstryd van die ATP-eindronde in Turyn verloor het, het Jannik Sinner weerwraak op die tennisbaan teen die wêreld se voorste speler geneem.

Die jong Italianer het hul Davisbeker-ontmoeting met 6-2, 2-6 en 7-5 beklink om Italië se plek in die eindstryd van die toernooi teen Australië te bespreek.

Nadat Sinner die eerste stel beklink het, het Djokovic oudergewoonte terugbaklei en met die telling 5-4 in sy guns in die beslissende stel het hy ook ʼn potvoorsprong van 40-0 geniet.

Maar Sinner kon sy man staan en ná amper drie uur se spel het hy as oorwinnaar van die baan gestap.

“Dit was soos ʼn wafferse tuimeltreinrit. Ek het ʼn baie goeie aanloop tot die wedstryd geniet, maar Novak het in die tweede stel aansienlik beter as ek gespeel. In die beslissende stel het ek aandag aan my afslaanwerk gegee en dit het uiteindelik die knoop deurgehak,” het Sinner gesê.

Die 22-jarige Italianer het uiteindelik 13 van die laaste 16 punte gewen.

Djokovic sluit egter steeds die jaar as die wêreld se voorste speler af en hy het in 2023 met die Grand Slam-louere in Melbourne, Parys en New York weggestap.

Hy het ook nog nie planne om binnekort sy uittrede aan te kondig nie.

“Ek speel nog op ʼn hoë vlak, terwyl rekords ook vir die nodige motivering sorg. Ek is egter op my eie tennispad en ek sal graag wil sien hoe ver ek nog daarop kan stap,” het die Serwiër gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.