Slaggereed vir Sani2C

Deur Terésa Coetzee

Die Sani2C-bergfietsmarathon is ongetwyfeld ’n gewilde inskrywing op die fietsrykalender. (Foto: Verskaf/Anthony Grote)

Van my lekkerste swemtye in die see was in my fietsryklere in Scottburgh by die eindpunt van die Sani2C wanneer al die fietsryers saam ná drie dae se swoeg en sweet die oseaan invaar!

Ja, dis amper weer tyd vir die jaarlikse Sani2C-bergfietsmarathon en binnekort gaan duisende entoesiastiese bergfietsryers weer hul ysterperdjies opsaal om die opwindende tog vanaf die dorpie Himeville in die suidelike deel van die Drakensbergreeks tot by Scottburgh teenaan die Natalse kus aan te pak.

Die gewilde Sani2C-bergfietsmarathon is een van die oudste driedag-byeenkomste in die land en die 19de weergawe van dié ren vind binnekort plaas. Vra maar enige deurwinterde bergfietsryer wat graag aan multifase-marathons deelneem, iewers in hul medaljeversameling sal daar ʼn Sani2C-medalje pryk … en dis boonop ʼn ren wat ná al die jare steeds net so gewild is soos 10 of 15 jaar gelede.

Aanvanklik was daar net een byeenkoms, die Sani2C Race, maar omdat die ren so gewild was onder fietsryers was die organiseerders genoodsaak om ʼn tweede byeenkoms (die Adventure) by te voeg ter wille van getalle. In 2012 is daar selfs ʼn derde been bygevoeg, die Trail. Deesdae is die Trail vervang deur die Nonstop-byeenkoms wat geskik is vir die geharde fietsryers wat die hele driedagroete in een skof aanpak. Ryers het 24 uur om die afstand van 250 km te voltooi.

Tradisioneel was die Race die byeenkoms waar die professionele ryers vir prysgeld gaan meeding het, terwyl die Adventure ietwat meer ontspanne was, maar volgens die organiseerder Glen Haw is albei byeenkomste eintlik presies dieselfde en net so toeganklik vir alle ryers. Dit hang bloot af van watter datum jou as fietsryer die beste pas en of jy skouers wil skuur met die professionele atlete of nié.

Wees gereed!

Om vir ʼn driedag-byeenkoms soos die Sani2C voor te berei verg nie net die regte fisieke oefening nie, maar dis belangrik om seker te maak jou bergfiets sal die 268 km sonder probleme kan aflê. Dis raadsaam om jou fiets vooraf te laat versien, binnebandlose bande is ʼn móét en maak seker daar is genoeg slym in jou bande wat dit verseël as daar ʼn gaatjie in jou band opduik.

Pak vir jou belangrike items soos ʼn ekstra stel briekblokkies, slym, bomme, skakels vir jou ketting, fietsolie en ʼn ekstra binneband in en ry dit saam met jou op die fiets.

Die koudste wat ek al in my lewe gekry het, was in ʼn tentjie in die tentedorp van Sani2C net buite Himeville, en daarom is ʼn warm slaapsak en selfs ʼn ekstra warmwatersak altyd ʼn goeie idee. Al is dit nie nou reënseisoen daar nie, sal menige mense vir jou stories kan vertel van baie nat en modderige Sani2C’s, so ʼn ligte reënbaadjie is ook nie te versmaai nie. Onthou jou koplig as jy in ʼn tentjie bly. Gelukkig raak dit warmer namate ʼn mens nader aan die see beweeg.

Vanjaar se byeenkomste is soos volg: Die Adventure (26 tot 28 April), die Race (27 tot 29 April) en die Nonstop (13 tot 14 Mei).

Besoek sani2C.co.za vir meer inligting.

Die inskrywingsgeld vir KAP Sani2C vir drie dae is R9 350 per persoon vir ʼn span.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gerhard ·

Kostes vir resies is R9350 per persoon, nie per span nie.
Baie goeie stage race. Het dit in 2011 en 2012 geoden. Toe was dit klaar duur maar nog nie so onbekostigbaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.