Speke gaan in die Laeveld sing

Die terrein sal die deelnemers se fiksheid toets. Foto: PC Photography Nelspruit

Vir die afgelope 24 jaar is die Barberton XCM-bergfietswedren die plaaslike Rotariërklub se fietstrap‑trots. En vanjaar se wedren beloof om selfs beter as vantevore te wees.

Die wedren spog met twee splinternuwe roetes vir deelnemers wat die 20 km- en 30 km-afstande aanpak. Die roetes sal deur die eksklusiewe Greenstone-wildlewelandgoed kronkel.

Dan sal die hardebaard-trappers moet uithaal en wys om die opdraandes van die Makhonjwa-bergreeks te

Nico Bell is een van die voormalige wenners. Foto: Sheryn Nader.

tem, terwyl die plantasies en strome van die roetes vir hul eie unieke hindernisse sorg.

Wat die wedren so uniek maak, is nie net die lang klimme en pragtige natuur nie – jy kan selfs tot in Swaziland sien as jy genoeg tyd het om rond te kyk – maar eerder die uitdagende terrein wat deelnemers se fiksheid tot die uiterste sal beproef.

Professionele ryers soos Nico Bell en ervare manne soos Gawie Combrinck en Timo Cooper sal hul staal kom wys, terwyl voornemende Cape Epic-deelnemers die Barbertonse wedren gebruik om hul fiksheidsvlakke en stamina te meet.

  • Die wedren vind op 25 Januarie plaas.
  • Jy kan by cycleevents.co.za inskryf en die sluitingsdatum vir aanlyn inskrywings is op 21 Januarie. Indien jy laat geslaap het met die inskrywingsproses kan jy op 24 Januarie (tussen 15:00 en 21:00) en op 25 Januarie (vanaf 05:30) by Hoërskool Barberton inskryf.
  • Deelnemers kan tussen 20 km-, 30 km-, 50 km-, 77 km- en 110 km-afstande kies.
  • Mopani Apteekgroep is vanjaar die wedren se titelborg.
  • Vir meer inligting, besoek www.barbertonxcm.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.