Spele-baas bedank ná seksistiese opmerking

Yoshiro Mori. Foto: Yoshikazu Tsuno/AFP.

Yoshiro Mori, president van Tokio se Olimpiese organiseringskomitee, het bedank nadat hy beweer het dat vroue te veel in vergaderings praat. Dié stelling het hom die gramskap van talle Japannese op die hals gehaal.

Die 83-jarige Spele-baas het vandag gesê dat sy bedanking onmiddellik in werking sal tree.

“Ek wil opreg om verskoning vra. My onvanpaste opmerking het vir chaos gesorg,” het hy gedurende ’n vergadering van Tokio 2020 se uitvoerende komitee gesê.

“Dit is die belangrikste dat die Olimpiese Spele vanaf Julie moet plaasvind. My teenwoordigheid moet nie in die pad van daardie droom staan nie.”

Mori se opmerking het reg oor die wêreld opslae gemaak.

’n Aanlyn veldtog waarin optrede teen hom  geëis word, het gister reeds meer as 146 000 handtekeninge ontvang, terwyl die Japannese tennisster Naomi Osaka sy opmerkings as “onkundig” bestempel het.

Ongeveer 400 Olimpiese en Paralimpiese vrywilligers het intussen bedank weens die opmerkings. Altesaam 80 000 vrywilligers uit Japan en die buiteland is gewerf vir die Spele wat na verwagting op 23 Julie sal afskop.

Saburō Kawabuchi was aanvanklik die gunsteling om die leisels by Mori oor te neem, maar die 84-jarige sportadministrateur het hom intussen aan die wedloop onttrek.

Volgens die plaaslike media is Seiko Hashimoto, ’n voormalige Olimpiese held, een van die gunstelinge.

Die president van die Internasionale Olimpiese Komitee, Thomas Bach, het gesê dat hy Mori se besluit respekteer en verstaan waarom hy dit gedoen het.

“Ons wil hom terselfdertyd bedank vir sy uitstekende bydrae tot die Olimpiese en Paralimpiese Spele. Tussendeur sy vele prestasies het president Mori toegesien dat Tokio die besvoorbereide gasheerstad in die geskiedenis van die Spele is,” het Bach gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.