Suid-Afrikaners veg voort by Wimbledon

Lloyd Harris. Foto: ANA.

Suid-Afrika se Lloyd Harris se Wimbledon-paadjie het gister tot ’n einde gekom toe hy en sy dubbelspelspanmaat, Casper Ruud, deur die Suid-Amerikaanse duo van Miguel Angel Reyes-Varela en Marcelo Areval uitgeskakel is.

Die eindtelling was 6-7, 6-1, 6-3 en 6-4 in die Suid-Amerikaners se guns.

Harris het ook vroeër in die eerste ronde van die enkelspeltoernooi teen Roger Federer verloor.

Intussen sal Suid-Afrika se voorste speler, Kevin Anderson, sy veldtog vandag voortsit wanneer hy teen Argentinië se Guido Pella te staan kom.

Anderson het sy vorige wedstryd 6-4, 6-7, 6-1 en 6-4 teen Janko Tipsarevic gewen.

Die 33-jarige Suid-Afrikaner was vir ’n ruk op die krukkelys met ’n elmboogbesering, maar dit het gelyk asof hy volkome van dié besering herstel het.

“Ek dink mens moet ’n pad stap ná ’n besering, maar ek voel baie goed nadat ek twee wedstryde gespeel het. En dit is ’n baie positiewe teken,” het Anderson gesê.

“Ek dink my afslane het baie goed teen Janko gewerk en hy kon nie ’n enkele pot teen my afslane gewen het nie. Terselfdertyd is ek baie tevrede met die wyse waarop my liggaam op die baan gereageer het – dit is nou by verre vir my die belangrikste.

“Hoe meer wedstryde ek speel, hoe beter sal my elmboog word.”

  • Raven Klaasen en Michael Venus speel vandag teen Lleyton Hewitt en Jordan Thompson in die tweede ronde van die dubbelspelwedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.