Tannie se Comrades-goud inspireer ’n marathon-ster

Irvette van Zyl. Foto: Facebook.

Dit is te danke aan Irvette van Zyl se tannie dat sy een van Suid-Afrika se voorste marathon-atlete geword het.

“Ek was vyf jaar oud toe my tannie, Frances van Blerk, in 1992 die Comrades gewen het. Ek onthou sy het altyd van haar medaljes en trofees vir my gegee. Op laerskool het ek net doodeenvoudig besluit dat ek my eie medaljes soek en ek het begin hardloop,” het Van Zyl aan Maroela Media gesê.

Sedertdien het Van Zyl, nou 32 jaar oud, onder meer vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer en die rekord vir die gewilde Soweto-marathon verbeter, ’n wedloop wat sy reeds drie keer gewen het.

Maar haar vinnigste marathon-tyd is in Brittanje opgestel toe sy in 2013 die Londen-marathon met ’n blitsige 2:31:26 kafgedraf het.

“My gunsteling-wedloop is juis die Londen-marathon en ek sal dit graag weer wil aandurf. Hier in Suid-Afrika is die Soweto-wedloop ongetwyfeld die lekkerste.”

Tog het haar hardloop-bootjie nie altyd in ’n veilige hawe gedobber nie; soms was die waters maar troebel.

’n Jaar of wat gelede moes sy ’n operasie ondergaan om die bloedtoevoer na haar linkerbeen te verbeter – ’n aar is vasgeknyp.

“Ek het sedert 2012 daarmee gesukkel. My been sou met elke hardloopsessie lam word en ek het dan spontaan beheer oor my been verloor. Dit het gewoonlik ná ’n paar kilometer verbeter; net om weer sonder enige waarskuwing op te vlam. Ek het baie lank na die oorsaak van die probleem gesoek.”

Sy vertel dat dit ’n moeilike tyd in haar drafloopbaan was.

Onderkry is min vir Irvette van Zyl. Foto: Twitter.

“Dit het my weliswaar ’n sterker persoon gemaak, tog het dit my elke keer sielkundig geknak as nóg ’n dokter of spesialis gesê dat hulle nie weet wat fout is nie. Ek het ook baie beserings opgedoen omdat ek noodgedwonge my hardloopstyl moes aanpas wanneer ek beheer oor my been verloor het.”

Maar die hardloopvuur is hoegenaamd nie geblus nie en sy het nog ’n rits doelwitte wat sy wil bereik. Sy wil graag haar korter afstande (10 km en verder) se tye verbeter, terwyl sy goud in die Twee Oseane-wedloop wil smaak. Die groot droom is natuurlik om in haar tannie se voetspore te volg om die Comrades te wen.

Vreemd genoeg het die Covid-19-era ook ’n positiewe invloed op haar marathon-loopbaan.

“ʼn Mens is altyd so gejaagd met wedlope, maar ek het nou die geleentheid gekry om op my versterkingsoefeninge te konsentreer. Ek kon nou op my swak punte fokus en poog om hulle te verbeter.”

Sy is met die voormalige Statebond-hekkieskampioen, LJ van Zyl, getroud en dit is ongetwyfeld ’n wenvennootskap: Hulle hou al twee daarvan om aktief en besig te bly.

“LJ verstaan waardeur ’n atleet gaan – die emosies en die harde oefening net om een wedloop moontlik te maak. Daar is baie hoogte- en laagtepunte, maar dit is baie makliker as jou man self ’n sportman is.”

Met haar talent en ondersteuningsbasis kan Irvette van Zyl beslis nog in Frances van Blerk se goue voetspore volg.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.