Tatjana lyk slaggereed vir Spele

’n Argieffoto van Tatjana Smith. Die Olimpiese gouemedaljewenner sorg vir skittervertonings by die nasionale kampioenskap in die Oos-Kaap. (Foto: Takuma Harda/The Yomiuri Shimbun via AFP)

In die wêreld van professionele sport is dit altyd goed om op die regte tyd op jou beste te wees. En met die Olimpiese Spele in Parys om die draai is Tatjana Smith ongetwyfeld besig om medaljemomentum op te bou.

Suid-Afrika se goue swemmeisie het by die nasionale swemkampioenskap in Gqeberha (Port Elizabeth) die 200 m-borsslageindronde met ʼn spoggerige tyd van 2:19.01 min. gewen.

Dit is haar beste vertoning in dié item sedert sy drie jaar gelede in Tokio na ʼn Olimpiese goue medalje gestorm het met haar tyd van 2:18.95 min.

Haar Gqeberha-podiumplek beteken dat sy vanjaar die toptyd in haar voorkeuritem losgeswem het. Sy is tans vinniger as die VSA se Kate Douglass (2:19.30 min.) en die Nederlander Tes Schouten (2:19.81 min.).

Dinge lyk tans goed met die oog op Parys.

“Ek het vroeër met my ritme in die swembad gesukkel en ek is nou baie dankbaar oor dié tyd. Ek voel weer soos myself in die water,” het Smith gesê.

Sy het ook in die uitdunronde die spoedkrane oopgedraai met ʼn wentyd van 2:19.92 min.

“Ek was verras met die tyd. Ek het goed gevoel en vermoed dat ek moontlik ʼn 2:21 geswem het of, as ek gelukkig is, ʼn 2:20. Toe ek die tyd sien, was dit doodeenvoudig onwerklik. Ek is baie dankbaar – dit gee ʼn mens se selfvertroue ʼn definitiewe hupstoot.”

Kaylene Corbett was tweede met haar Olimpiese kwalifiserende tyd van 2:23.71 min.

Dan het Pieter Coetzé nóg ʼn medalje ingeoes toe hy die 200 m-rugslagitem gewen het. Die jong Pretorianer het die prestasie boonop saam met ʼn persoonlike beste tyd van 1:55.85 min. gevier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.