Tatjana swem al Sondag in Tokio

Tatjana Schoenmaker in aksie. Foto: Anthony Wallace/AFP.

Penny Heyns het vroeër vanjaar gesê dat Tatjana Schoenmaker ongetwyfeld een van die gunstelinge is om ’n medalje by die Olimpiese Spele in te oes. Die enigste onbeantwoorde vraag is watter kleur die medalje gaan wees.

Die 24-jarige swemmer is reeds Sondag in aksie wanneer sy vir die 100 m-borsslagitem in Tokio sal aantree. Maar, sê haar afrigter Rocco Meiring, sy gaan hierdie item bloot gebruik om litte vir die 200 m-item los te maak.

“Om vir die 200 m voor te berei is baie anders as om vir die 100 m-item te oefen. Die enigste rede waarom Tatjana aan die 100 m deelneem, is om vinniger deur die 200 m-water te kan klief,” het Meiring gesê.

Schoenmaker is deesdae ’n groot vis in ’n swembad en sy verbeter die een rekord ná die ander. Sy het vir opwinding gesorg by die onlangse nasionale kampioenskap in Gqeberha (Port Elizabeth), terwyl die Tuks-swemmer ook die eerste Suid-Afrikaanse vrou was om ’n podiumplek by die Wêreldlangbad-kampioenskap in 2019 los te swem.

Haar Afrika-rekordtyd van 2:20:17 min is die vinnigste tyd vanjaar en net vyf ander swemmers het ’n vinniger 100 m-tyd as sy in 2021.

Dit is egter ’n feit dat ’n getuigskrif met indrukwekkende tye daarop dikwels by die stadion-venster uitwaai sodra die eerste wegspringskoot by die Olimpiese Spele klap.

Volgens Penny Heyns is Schoenmaker een van die gunstelinge om ’n medalje te wen. Foto: REUTERS/David Gray

“Tatjana kon nog net een keer vinniger as 1:06 min in die 100 m-item swem. Sy sal weer ’n soortgelyke haas uit die hoed moet pluk indien sy vir die finaal wil kwalifiseer; ek verwag dat die uiteindelike wenner ’n tyd vinniger as 1:05:30 min sal moet swem.”

Heyns het vroeër gewaarsku dat die Suid-Afrikaner moet waak om nie deur die opwinding meegevoer te raak nie.

“Ek hou van Tatjana se houding in die swembad. Dit lyk nie asof sy haarself met ander wil vergelyk nie; sy wil net na die beste van haar vermoë swem. Dit is die sleutel tot sukses op die hoogste vlak: Dit help nie om met iemand anders mee te ding nie, want dan kan jou aandag maklik afgetrek word.”

Meiring is ook in sy noppies met sy swemmer se benadering tot die Spele.

“Ek dink nie Tatjana kon enigiets meer gedoen het nie. Sy het gereeld blitsige tye in haar oefensessies geswem, sy is sterker as ooit vantevore en sy het sosiale wisselwerking tot ’n minimum beperk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Ek hou nie van hierdie houding dat een item net vir “oefening” gebruik word nie. Dis duidelik dat sy selfs in die 100m ook ‘n kans kan staan. Nou lyk my sy wil net op die 200m konsentreer. Ek se doen die beste wat jy kan in AL die nommers waarin jy gekwalifiseer het. Sy kan heeltemal uit die bus uitval in haar “gunsteling” item maar mens weet nooit wat in die 100m kan gebeur nie (gunstelinge mag beserings he, ‘n afdag he of wat ookal). Nee, gee jou alles in alles waarin jy deelneem. As jy ‘n kans het, moet jy die geleentheid ten volle benut na die beste van jou vermoe. Dis veral belangrik in die Olimpiese Spele, enigiets kan daar gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.