Tennis SA kies ook sy direkteur

Jeff Coetzee. Foto: ANA.

Tennis Suid-Afrika (TSA) het in Krieket Suid-Afrika se voetspore gevolg en sy eerste direkteur van tennis aangestel.

Die 42-jarige Grand Slam-wenafrigter Jeff Coetzee het die pos aanvaar en is opgewonde oor die geleentheid wat dit hom bied.

“Dit is ’n wonderlike platform om terug in Suid-Afrikaanse tennis te ploeg. Daar was baie vordering die afgelope paar jaar, maar daar wag nog baie werk op ons,” het hy gesê.

Volgens Coetzee sal een van sy hoofprioriteite wees om die verhouding tussen TSA en die spelers te versterk.

“Suid-Afrika beskik oor ongelooflike natuurlike tennistalent, maar ons moet onsself teen die res van die wêreld kan meet.”

Coetzee het ’n baie goeie 2019 agter die blad. As afrigter het hy gesorg dat Juan Sebastián Cabal en Robert Farah die no.1-gekeurde dubbelspelkombinasie op die ATP-ranglys word, terwyl hulle terselfdertyd ook twee Grand Slam-titels verower het.

Die uitvoerende hoof van TSA, Richard Glover, glo dat Coetzee se aanstelling ’n definitiewe stap in die regte rigting is.

“Ons wou iemand aanstel wie se tennis-getuigskrif met die beste ter wêreld kan saamgesels. Dit is nie aldag dat jy iemand aanstel wat as afrigter die Wimbledon- en Amerikaanse Ope-titels gewen het nie,” het Glover gesê.

“Jeff is professionele persoon, ’n slim strateeg en iemand met fantastiese kommunikasie-vaardighede. Ons glo hy sal ’n invloedryke rol speel om ons plaaslike tennis tot groter hoogtes te neem; óp en lángs die baan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.