Toeskouer sterf by Dakar

Nasser Al-Attiyah en Mathieu Baumel in aksie. Foto: Franck Fife/AFP.

Gister se skof van die Dakar-tydren is deur die dood van ʼn Italiaanse toeskouer oorskadu. Volgens organiseerders het die toeris agter ʼn sandduin gestaan toe die voorval plaasgevind het.

“Hy is per helikopter na ʼn hospitaal geneem, maar hy het ongelukkig tydens die rit gesterf,” het Amaury Sport Organisation (organiseerders) in ʼn verklaring gesê.

Die skof van 358 km is uiteindelik deur Sebastien Loeb en Fabian Lurquin gewen, terwyl Vaidotas Zala en Paulo Fiuza in die tweede plek klaargemaak het.

Suid-Afrika se Giniel de Villiers was sewende, terwyl Nasser Al-Attiyah kort op sy hakke in die agtste plek by die eindpunt aangekom het.

Henk Lategan het met meganiese probleme gesukkel en hy moes met ʼn 25ste plek tevrede wees; meer as 50 minute agter Loeb.

Al-Attiyah is egter tevrede met sy Hilux se vertoning en hy poog om die eerste deelnemer sedert Stephane Peterhansel te word om met agtereenvolgende titels te spog.

“Dit was ʼn goeie dag met min foute en probleme; dit sal lekker wees as ons elke keer só ʼn skof kan hê. Ons spog nou met ʼn stewige voorsprong en hopelik kan ons hierop voortbou om die Dakar te wen,” het die Katar-boorling gesê.

Intussen is Carlos Sainz se Dakar-veldtog iets van die verlede.

Die 60-jarige Spanjaard se Audi het op sy dak geland nadat hy oor ʼn sandduin gevlieg het. Ondanks ʼn seer borskas het hy noodpersoneel gevra om hom terug na sy voertuig te neem sodat hy die skof kan voltooi.

“Die voertuig is erg beskadig en dit kan nie herstel word nie,” het hy later op sosiale media gedeel.

Skofuitslae:

  1. Sebastien Loeb en Fabian Lurquin (Bahrein Raid Xtreme): 3:27:24
  2. Vaidotas Zala en Paulo Fiuza (Teltonika Racing): +57 s
  3. Guerlain Chicherit en Alex Winocq (GCK Motorsport): +2:08 min
  4. Mattias Ekstrom en Emil Bergkvist (Team Audi Sport): +5:11 min
  5. Romain Dumas en Max Delfino (Rebellion Racing): +7:38 min
  6. Jakub Przygonski en Armand Monleon (X-raid Mini JCW): +8:23
  7. Giniel de Villiers en Denis Murphy (Toyota Gazoo Racing): +8:55 min
  8. Nasser Al-Attiyah en Mathieu Baumel (Toyota Gazoo Racing): +8:58 min
  9. Sebastian Halpern en Bernardo Graue (X-raid Mini JCW): +10:08 min
  10. Lucas Moraes en Timo Gottschalk (Overdrive Racing): +10:33 min

Algehele punteleer:

  1. Nasser Al-Attiyah en Mathieu Baumel: 34:19:20
  2. Lucas Moraes en Timo Gottschalk: +1:21:57
  3. Sebastien Loeb en Fabian Lurquin: +1:43:08
  4. Henk Lategan en Brett Cummings: 1:46:23
  5. Giniel de Villiers en Dennis Murphy: 2:04:17.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanEtz ·

Daar is nog 2 Suid Afrikaners wat deelneem. Basson en Pienaar..
Sal graag wil sien dat oor hulle vordering ook berig word……?

Johan ·

En die toeris het gesterf van agter ‘n sand duin staan? Mag ons weet wat het agter die sand duin gebeur?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.