Toto krap steeds kop oor blitsige Red Bull

Mercedes se Toto Wolff. (Foto: Jim Watson/AFP. )

Lewis Hamilton mag dalk op die podium in Melbourne gestaan het, maar Toto Wolff is steeds bekommerd oor Red Bull se spoed. Max Verstappen het steeds met die grootste gemak die ander renjaers in sy truspieëltjie dopgehou.

“Red Bull het ongetwyfeld ʼn groot pylvak-spoedvoordeel en in ʼn DRS-strook is hul vaartversnelling pleinweg ongelooflik,” het die Mercedes-spanbaas gesê.

DRS (oftewel die Drag Reduction System) is ʼn F1-meganisme wat dit moontlik maak dat ʼn renmotor se agterste drukvlerk op sekere plekke tydens ʼn rondte oopgemaak kan word om die windweerstand te verminder. Dit word ingestel sodat die motor ʼn hoër topspoed kan bereik. Sodoende kan renjaers mekaar ook makliker in dié spesiale stroke verbysteek.

Hamilton het weliswaar vir Verstappen net ná die wegspring verbygesteek, maar die verdedigende wêreldkampioen het later in die wedren ʼn gemaklike voorsprong oor die 38-jarige Brit opgebou.

Boonop moes George Russell – Hamilton se Mercedes-spanmaat – ook die aftog blaas nadat hy probleme met sy enjin ervaar het.

“Ek dink dit is goed dat ons by Ferrari en Aston Martin kon kersvashou en ons moet daarop voortbou. Hoe meer ons oor die motor leer en opgraderingswerk doen, hoe beter. Ons sal dan beslis die voorlopers kan uitdaag.”

Die geruite vlag is vir Max Verstappen in Melbourne geswaai. (Foto: Twitter.)

Volgens Wolff sal Mercedes nou sy bes doen om ʼn manier te vind om by Red Bull in die pylvak te bly.

Intussen glo Russell dat Verstappen en Sergio Perez nog nie die spoednaald van hul renmotors heeltemal in die rooi gedruk het nie.

“Red Bull hou beslis terug. Ek dink hulle is versigtig om hul volle potensiaal te wys omdat hulle bang is dat beamptes dan tussenbeide sal tree om die speelveld meer gelyk te maak,” het die jong Mercedes-renjaer gesê.

Die volgende wedren is op 30 April is Azerbeidjan.

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen (Red Bull): 69 punte
  2. Sergio Perez (Red Bull): 54 punte
  3. Fernando Alonso (Aston Martin): 45 punte
  4. Lewis Hamilton (Mercedes): 38 punte
  5. Carlos Sainz (Ferrari): 20 punte
  6. Lance Stroll (Aston Martin): 20 punte
  7. George Russell (Mercedes): 18 punte
  8. Landon Norris (McLaren): 8 punte
  9. Nico Hulkenberg (Haas): 6 punte
  10. Charles Leclerc (Ferrari): 6 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 123 punte
  2. Aston Martin: 65 punte
  3. Mercedes: 56 punte
  4. Ferrari: 26 punte
  5. McLaren: 12 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Koos 100 ·

Toto. Tydens Mercedes se goue jare het ander spanne dit ook gevra. Tydens Ferrari se goue jare ook, en ook vir Maclaren. Dis die verloop van die spel. Reb Bull het gewerk as ‘n nuwe motor (wel bietjie reëls gebreek ook)terwyl julle alles gewen het so 2 tot 3 jaar terug. Hou op wonder in die media en begin ‘n nuwe kar ontwikkel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.