Triomfantelike oomblik vir Cape Epic-wenners

Nino Schurter en Lars Forster by die eindstreep van die Absa Cape Epic. (Foto: ANA)

Nino Schurter en Lars Forster het Sondag hul triomfantelike tog na algehele oorwinning in die mansafdeling van die Absa Cape Epic by die Val de Vie-landgoed voltooi.

Die Scott-SRAM MTB-Racing-span het die finale fase van die Universiteit Stellenbosch na Val de Vie begin met ʼn gemaklike voorsprong van agt minute oor Cannondale Factory Racing in die tweede posisie.

Dit het beteken hulle moes slegs Manuel Fumic en Henrique Avancini dophou om ʼn suksesvolle week met ʼn algehele wen by die Cape Epic af te rond.

Hulle het die oorwinning gemaklik behaal met 7:36 voor Avancini en Fumic – ʼn goue debuut vir Forster en tweede oorwinning vir Schurter.

Theresa Ralph en Sarah Hill van Galileo Risk vier hul prestasie na die finale fase van die Absa Cape Epic-resies. (Foto: Shaun Roy/Cape Epic)

“Dit was ongelooflik,” het Schurter gesê. “Dit was regtig spesiaal om te wen. Dit is regtig moeilik om hierdie resies te wen, jy het baie geluk en ʼn sterk span nodig. Ons is baie opgewonde hieroor.”

Forster het op sy beurt gesê hy het gister swaargekry, maar vandag selfs nog meer. “Gelukkig het ek ʼn sterk perd saam met my gehad wat nog ʼn bietjie brandstof in die tenk oor gehad het!”

In die vroue-afdeling het Annika Langvad en Anna van der Breggen (Investec-songo-Specialized) eerste prys losgetrap in die sewende fase van die Absa Cape Epic om Langvad haar vyfde oorwinning in die uitmergelende agt dae lange wedloop te besorg.

Langvad en Van der Breggen het vandag in die laaste kilometer van die finale fase van Candice Lill en Adelheid Morath (Summit Fin) weggebreek om hul oorwinning met albei hande te gryp. Die Investec-songo-Specialized duo het al ʼn week gelede tydens die openingsfase op die hellings van die Tafelberg Nasionale Park hul voorsprong verseker en het dit dwarsdeur die agt fases oor die Wes-Kaap gehandhaaf.

Selfs toe Lill en Morath Vrydag munt geslaan het uit ʼn ongewone slegte dag vir Van der Breggen, was dit niks meer as ʼn tydelike terugslag vir die dominerende wedloopwenners nie.

Die vroue-wenners op die podium: Van links is Candice Lill en Adelheid Morath van Summit Fin in die tweedeplek; Anna van der Breggen en Annika Langvad in die eersteplek; en Maja Wloszczowska en Ariane Lüthi van KROSS Spur in die derdeplek. (Foto: Nick Muzik/Cape Epic)

Langvad was verrassend kalm oor haar vyfde wen en die feit dat sy die rekord geëwenaar het van Cape Epic-grootkoppe Karl Platt en Christoph Sauser; haar fokus was eerder op Van der Breggen en haar eerste oorwinning.

“Die Absa Cape Epic is altyd so intens, die op en die af… dit was so emosioneel hierdie jaar. Dit was so ʼn goeie week en ek het dit regtig geniet om saam met Anna te ry en ʼn nuwe vennootskap te vorm. Dit was groot pret,” het Langvad gesê.

Van der Breggen het op haar beurt gesê die wedloop was ʼn toets vir haar liggaam om te kyk hoe ver sy haar vermoëns kan druk. “Met tye het ek nie die lyding geniet nie, dit was nie lekker om te doen nie. Ek dink nie my lyf was al ooit so moeg nie en ek dink nie ek het al ooit in een week so baie tyd op ʼn fiets deurgebring nie. Dit was moeilik aan die begin, maar nou weet ek hoe dit voel om te behaal wat ons behaal het,” het sy gesê.

Die uitslae:

Mans:

  1. KROSS-SPUR 14-1 Sergio Mantecon Gutierrez (Spanje) 14-2 Ondřej Cink (Tsjeggiese Republiek) 02:53.07,3
  2. PYGA Euro Steel 7-1 Philip Buys (Suid-Afrika) 7-2 Matthys Beukes (Suid-Afrika) 02:53.07,4 +0,1
  3. CST Sandd 19-1 Sebastian Fini (Denemarke) 19-2 Martins Blums (Latvia) 02:54.02,2 +54,9

Mans algehele uitslae:

  1. Scott-SRAM MTB-Racing 4-1 Nino Schurter (Switserland) 4-2 Lars Forster (Switserland) 26:09.45,5
  2. Cannondale Factory Racing 3-1 Manuel Fumic (Duitsland) 3-2 Henrique Avancini (Brasilië) 26:17.22,4 +7.36,9
  3. Trek Selle San Marco 10-1 Damiano Ferraro (Italië) 10-2 Samuele Porro (Italië) 26:26.22,8 +16.37,3

Vroue:

  1. Investec-songo-Specialized 50-1 Annika Langvad (Denemarke) 50-2 Anna van der Breggen (Nederland) 03:33.46,1
  2. Summit Fin 54-1 Candice Lill (Suid-Afrika) 54-2 Adelheid Morath (Duitsland) 03:34.03,5 +17,4
  3. Kross-Spur Racing 53-1 Ariane Lüthi (Switserland) 53-2 Maja Wloszczowska (Pole) 03:40.18,4 +6.32,3

Vroue algehele uitslae:

  1. Investec-songo-Specialized 50-1 Annika Langvad (Denemarke) 50-2 Anna van der Breggen (Nederland) 31:26.41,4
  2. Summit Fin 54-1 Candice Lill (Suid-Afrika) 54-2 Adelheid Morath (Duitsland) 31:57.04,1 +30.22,7
  3. Kross-Spur Racing 53-1 Ariane Lüthi (Switserland) 53-2 Maja Wloszczowska (Pole) 32:35.09,3 +1:08.27,9

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.