Tsitsipas bult weer spiere

Stefanos Tsitsipas in aksie. Foto: Twitter.

ʼn Seer skouer en beseerde teenstanders beteken dat Stefanos Tsitsipas taamlik lanklaas ʼn mededingende tenniswedstryd gespeel het, maar die Griek het egter steeds genoeg gedoen om Cristian Garin met 6-3, 4-6 en 6-4 in Miami te klop.

“Ek het ʼn hele ruk gewag om weer op die baan uit te stap en dit het amper soos ʼn vakansie hier in Miami gevoel. Cristian het egter dinge glad nie vir my maklik gemaak nie; hy speel deesdae baie goeie tennis,” het Tsitsipas gesê.

Dit uitslag beteken dat hy nou vir die vierde keer op ʼn streep na die vierde ronde van die Florida-toernooi deurgedring het.

“Ek is egter baie tevrede hoe sake verloop het. Ek het my oog op die prys gehou en dit het ʼn definitiewe invloed op my spel gehad; veral in sy laaste afslaanpot.”

Die wêreld se derde beste speler sal nou teen Rusland se Karen Khachanov te staan kom.

Intussen sal Carlos Alcaraz sy veldtog om nóg ʼn toernooi te wen vandag voortsit wanneer hy teen Tommy Paul van die VSA te staan kom.

Die wêreld se voorste speler word deur kenners as die mees kreatiewe en dinamiese speler op die internasionale verhoog bestempel.

Die 19-jarige Spanjaard het vroeër nie net sy 100ste ATP-wedstryd gewen nie, maar hy het ook met die louere in die Indian Wells-toernooi weggestap.

Uitslae:

Lorenzo Sonego klop Frances Tiafoe met 6-3 en 6-4

Francisco Cerundolo klop Felix Auger-Aliassime met 6-2 en 7-5

Adrian Mannarino klop Hubert Hurkacz met 7-6 en 7-6

Stefanos Tsitsipas klop Cristian Garin met 6-3, 4-6 en 6-4

Aryna Sabalenka klop Barbora Krejcikova met 6-3 en 6-2

Petra Kvitova klop Varvara Gracheva met 7-5 en 7-6

Elena Rybakina klop Elise Mertens met 6-4 en 6-3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.