Vasseur glo Ferrari is op die regte pad

Charles Leclerc in aksie op die renbaan. (Foto: Alfredo Estrella/AFP)

Ondanks die feit dat Charles Leclerc heel voor in die Mexikaanse Grand Prix weggespring het, kon hy dit nie met ʼn oorwinning afrond nie en hy moes met ʼn uiteindelike derde plek tevrede wees.

Sy Ferrari-spanmaat, Carlos Sainz, het die wedren in die vierde plek afgesluit.

Die span sukkel egter steeds om by Max Verstappen kers vas te hou en die wêreldkampioen-renjaer het nóg ʼn Grand Prix gewen – sy 16de van die seisoen.

Tog meen Fred Vasseur dat Ferrari op die regte koers is.

“So saam met die voorste wegspringplek is ʼn derde en vierde plek glad nie ʼn slegte uitslag nie. Ons het heel goed die naweek gevaar,” het die Ferrari-spanbaas gesê.

Dit was die vierde keer in ses wedrenne dat ʼn Ferrari heel voor staanplek op die wegspringrooster gekry het.

Fred Vasseur is Ferrari se nuwe spanhoof. Foto: Jakub Porzycki/NurPhoto/AFP.

Die 55-jarige Fransman meen dat dié prestasie gevier moet word, terwyl die span aanvanklik ook ʼn mededingende vertoning in Mexiko gelewer het.

Ferrari se wegspringplek-vreugdevure is egter die afgelope naweek vinnig uitgedoof toe Leclerc in ʼn botsing om die heel eerste draai betrokke was.

Drie renmotors – Verstappen, Leclerc en Sergio Perez – het swaarde om die eerste draai gekruis en Perez het kontak met Leclerc gemaak.

“Wat kan jy doen wanneer drie renmotors langs mekaar vir ʼn plek baklei? Ek dink nie dit was enigiemand se skuld nie. Kom ons gaan voort om die vinnigste kwalifiserende tye op te stel; hopelik val alles binnekort in plek.”

Vasseur is einde 2022 in Mattia Binotto se plek as Ferrari-spanhoof aangestel en hy het toe gesê dat hy gereed is vir enige uitdaging.

“Dit is vir my ʼn groot eer om die leierskapleisels as spanhoof by Ferrari vas te vat. As iemand wat nog altyd ʼn groot passie vir motorsport gehad het, is Ferrari vir my die toppunt van die F1-berg. Ek sien daarna uit om saam met die talentvolle span te werk en om Ferrari se merkwaardige geskiedenis en erfenis te respekteer,” het Vasseur gesê.

Uitslae van Mexikaanse Grand Prix:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Lewis Hamilton (Mercedes)
  3. Charles Leclerc (Ferrari)
  4. Carlos Sainz (Ferrari)
  5. Lando Norris (McLaren)
  6. George Russell (Mercedes)
  7. Daniel Ricciardo (Alpha Tauri)
  8. Oscar Piastri (McLaren)
  9. Alex Albon (Williams)
  10. Esteban Ocon (Alpine).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.