Vettel gaan F1-helm wegbêre

Sebastian Vettel. Foto: Ben Stansall/AFP.

Die laaste wedren van die 2022-seisoen in Abu Dhabi sal ook die laaste wedren van Sebastian Vettel se roemryke F1-loopbaan wees. Die wenner van vier wêreldkampioenskaptitels het vandag op sosiale media sy uittrede aangekondig.

“Ek is mal oor hierdie sport en dit vertolk al ’n sleutelrol in my lewe vir so lank as wat ek kan onthou. Maar soos wat ek ’n lewe op die baan het, het ek ook een langs die baan. Ek glo dat ’n mens se identiteit veel eerder bepaal word deur wie jy is en hoe jy ander behandel as wat jy doen,” het die Duitser gesê.

Die 35-jarige renjaer het sy F1-buiging in 2007 gemaak en hy het vier agtereenvolgende wêreldtitels (2010 tot 2013) saam met Red Bull gewen voordat hy agter die stuur van ’n Ferrari geskuif het.

Die vreugdevure het omtrent hoog in Italië gebrand toe die aankondiging gemaak is, maar ná net 14 wedrenseges in 102 probeerslae saam met Ferrari is daar gesamentlik in 2020 aangekondig dat sy en die motorvervaardiger se paaie gaan skei.

 Foto: AP Photo/Andre Penner

Tog is hy die derde suksesvolste jaer in Ferrari-geskiedenis, terwyl hy die meeste punte vir die span aangeteken het. Terselfdertyd is sy 53 loopbaanoorwinnings die derde meeste in F1-geskiedenis – net Lewis Hamilton (103 oorwinnings) en Michael Schumacher (91 oorwinnings) het beter as hy gevaar.

Deesdae is hy ’n lid van die Aston Martin-renspan, maar hy kon vanjaar nog net 15 punte op die jaerspunteleer bymekaarskraap. Dit is weliswaar 11 punte meer as wat sy spanmaat, Lance Stroll, in dieselfde tyderk kon vermag.

Volgens Vettel het sy jong gesin ’n groot rol in sy besluit gespeel.

“Ek is mal daaroor om tyd saam met my gesin deur te bring en ek het ander belangstellings buiten F1 ontdek. My passie vir wedrenne en F1 beteken dat ek hulle maar min sien. My geesdrif vir F1 strook nie meer met my wens om ’n goeie pa en man te wees nie.

“My doelwitte het verander – van wedrenseges en wêreldtitels na die droom om my kinders te sien grootword. Ek wil vir hulle waardes leer en ophelp wanneer hulle val, maar die belangrikste is om ook by hulle te leer en hulle toe te laat om my ook te inspireer. My beste wedren is beslis om die draai.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Steyn ·

Sal nooit daai wedren vergeet waar F1 base hom gepenaliseer het om seker te maak ‘n sekere vlermuis wen die reisies en die seisoen. Vandaar af het Vettel en Ferarri moed op gegee

ONTPS ·

Naas Michael Schumacher was Sebastian Vettel my gunsteling renjaer. Gaan hom mis, was in my boek een van die bestes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.