Video: Roevan wil een van EFC se bestes word

Roevan de Beer in aksie. Foto: Verskaf.

Die Extreme Fighting Championship (EFC) kan ’n ongenaakbare wêreld wees, maar Roevan de Beer verwelkom die uitdagings met ope arms.

“Ek word altyd as die buiteperd beskou omdat ek vanuit Potchefstroom veg; ek moes nog altyd dubbel so hard werk om erkenning te kry,” het De Beer aan Maroela Media gesê.

Tog is hy besig om sy stempel dubbel en dwars binne die EFC-hok af te druk. Hy is immers een van die kapokgewigte wat die hardste kan slaan.

“My gunstelinggeveg sal beslis gedurende EFC82 wees toe ek my teenstander uitgeslaan het. Ek het daardie aand net almal weer herinner dat ek een van die min kapokgewigte ter wêreld is wat kan sorg dat iemand harpuis ruik.”

Die 32-jarige vertel dat ’n besering sy rugby- en krieketloopbaan kortgeknip het.

“Net om aan die gang en fiks te bly, het ek op gemengde gevegskuns besluit. Vreemd genoeg het die besering toe glad nie gepla nie.”

EFC-atlete vertel gereeld dat hulle dikwels harder gedurende oefensessies geslaan word as gedurende ’n amptelike geveg.

Maar om met ’n blou oog of seer arm ná ’n geveg te sit, is so deel van die sport soos instapliedjies en Tapout-hemde.

Hy wil een van die beste vegters in sy gewigsklas word. Foto: Verskaf.

“Ons plaas ons willens en wetens in só ’n posisie; jy moet maar met die nagevolge kan saamleef. Ek het al baie sportsoorte in my lewe beoefen, maar geen ander sport toets jou op dieselfde fisieke en sielkundige vlak soos wat gemengde gevegskuns doen nie. As jy nog nooit verloor het nie, dan neem jy beslis nie teen die regte teenstanders deel nie.”

Hy vertel dat die senuwees hom nie werklik vóór ’n geveg pla nie.

“Ek is gewoonlik baie rustig en kyk normaalweg sportprogramme op die televisie totdat dit tyd is om op te warm. Dan vergeet ek nooit om vooraf te bid nie; die sport het definitief my geloof ook sterker gemaak.”

De Beer het al by Carnival City, Time Square in Pretoria en in Durban deelgeneem.

“Wanneer jy by The Capital in Pretoria slaap, voel dit asof jy in ’n ander land is, terwyl Durban se arena sommer vir die eerste gevegte al stampvol is.”

Die toekoms mag dalk onseker in die Covid-19-era wees, maar De Beer wéét wat hy nog in sy loopbaan wil bereik.

“Ek wil my as een van die beste vegters in my gewigsklas vestig om sodoende eendag vir die titel in aanmerking te kom.”

Maar dit is ’n feit dat dit ’n ongenaakbare sportsoort is – jy kan niemand anders die skuld gee wanneer jy in die hok verloor nie.

Roevan de Beer word egter nie sommer afgeskrik nie; hy is te sterk daarvoor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.