Vlieënde Max spring vandag eerste weg

Max Verstappen en Sergio Perez. Foto: Twitter.

Die neuse van twee Red Bull-renmotors staan vandag heel voor op die wegspringrooster van die Bahreinse Grand Prix.

Max Verstappen en Sergio Perez het die vinnigste tye in die kwalifiserende rondes opgestel en hulle sal sommer vanuit die staanspoor Red Bull se stempel op die nuwe F1-seisoen wil afdruk.

Verstappen – die verdedigende wêreldkampioen – spring vir die 21ste keer in sy loopbaan eerste weg nadat hy 0,138 sekondes vinniger as sy spanmaat was.

Tog kon hy nog nooit ʼn wedren in Bahrein wen nie en hy sal oorgehaal wees om vanmiddag met die louere weg te jaag.

Charles Leclerc en Carlos Sainz spring onderskeidelik derde en vierde in hul Ferrari’s weg, gevolg deur Aston Martin se immergroen Fernando Alonso.

Mercedes het nie dieselfde woema as hul teenstanders gehad nie met George Russell en Lewis Hamilton wat die sesde en sewende plek sal inneem.

SkySports se Martin Brundle het vroeër gesê dat die 38-jarige Hamilton se titel-uurglas dalk besig is om leeg te loop.

Die Britse renjaer jag steeds sy agtste titel; ʼn prestasie wat hom vir die afgelope paar seisoene ontwyk.

Die wedren begin vanmiddag om 17:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Wegspringrooster (topagt-renjaers):
  1. Max Verstappen (Red Bull): 1:29:708
  2. Sergio Perez (Red Bull): 1:29:846
  3. Charles Leclerc (Ferrari): 1:30:000
  4. Carlos Sainz (Ferrari): 1:30:154
  5. Ferando Alonso (Aston Martin): 1:30:336
  6. George Russell (Mercedes): 1:30:340
  7. Lewis Hamilton (Mercedes): 1:30:384
  8. Lance Stroll (Aston Martin): 1:30:836

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.