Vonke kan weer in Rusland spat

(Foto: ANDREJ ISAKOVIC/AFP)

Martin Brundle, die voormalige Britse renjaer en motorsportkommentator, meen dat Max Verstappen en Lewis Hamilton weer vir vuurwerke in Rusland kan sorg.

Verstappen is met drie plekke op die wegspringrooster gestraf nadat wedrenbeamptes bevind het dat hy “hoofsaaklik die skuld dra” vir die gebeure tydens die Italiaanse Grand Prix.

“Ek sal nie verbaas wees as ons weer so iets sien nie. Ons sit met twee kranige renjaers in twee sterk renmotors; en hulle gaan weer gelyktydig op dieselfde baan wees,” het Brundle in ’n onderhoud met Sky Sports gesê.

“Lewis weet hoe aggressief Max kan bestuur en hy sal ongetwyfeld vuur met vuur beveg.”

Verstappen is tans vyf punte bó Hamilton op die jaerspunteleer, maar die straf beteken dat hy Sondag waarskynlik agter die Mercedes-renjaer sal wegspring.

Dit is egter nie noodwendig ’n slegte ding nie – ’n groot persentasie van die wedrenne in Rusland is gewen deur renjaers wat in die tweede of derde plek op die wegspringrooster begin het.

En die jong Nederlander is juis in ’n veglustige bui.

Max Verstappen en Lewis Hamilton. Foto: Emilio Morenatti/AFP.

“Ons is vanjaar baie meer mededingend, maar dit sal interessant wees om te sien juis hóé mededingend ons kan wees,” het Verstappen vandeesweek gesê.

Die Red Bull-renjaer is deur Mercedes-ondersteuners gekritiseer omdat hy in Italië nie eers gestop het om te kyk of Hamilton oukei is voordat hy vies terug na sy span gestap het nie.

Maar Brundle (en Daniel Ricciardo) meen dat Verstappen waarskynlik geweet het dat Hamilton nie ernstig beseer is nie; die verdedigende wêreldkampioen het immers probeer om sy renmotor weer op die baan te kry.

“Om tru-rat in ’n F1-motor te vind is nie die maklikste taak ter wêreld nie en Lewis het probeer om agteruit tot op die baan te ry. Max het seker besef dat hy oukei is,” het Brundle gesê.

Die Russiese Grand Prix begin Sondag om 14:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 226,5 punte
  2. Lewis Hamilton 221,5 punte
  3. Valtteri Bottas 141 punte
  4. Lando Norris 132 punte
  5. Sergio Perez 118 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jr ·

Lewis Hamilton spoilt little tenagekomde brat miljoener met vuil kniee en ‘n gebaalde vuis. Ook een van daai met n goue lepel in die mond maar n BAIE harde lewe gehad soos ons een kaptein

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.