Wêreldtitel wink weer vir Max

Pure Red Bull-jolyt. (Foto: Twitter/Red Bull)

Red Bull se vervaardigerstitel is reeds veilig in die sakkie, nou kan die geruite vlag ook binnekort vir Max Verstappen in sy wêreldkampioen-resies geswaai word.

Die 25-jarige Nederlander het tans 400 punte op die jaerspunteleer en hy geniet ʼn voorsprong van 177 punte bo Sergio Perez in die tweede plek.

En indien alles volgens plan verloop, kan Verstappen sommer tydens die volgende snelren in Katar reeds die wêreldkampioen-vonkelwynproppe laat klap.

Die afgelope Suzuka-wedren was sy 13de oorwinning van die jaar en hy is op koers om sy rekord van 15 wedrenseges in ʼn enkele seisoen te verbeter.

Ná die spoedwal in Singapoer, waar hy met ʼn vyfde plek tevrede moes wees, was die vlieënde Hollander weer terug op sy beste in Japan: Sy toprondetyd was meer as ʼn sekonde vinniger as enigeen van sy teenstanders se beste pogings.

“Dit was ’n ongelooflike naweek, dit is wonderlik om in Japan te wen en die renmotor het op alle suiers gevuur. Dit is egter net so belangrik om die vervaardigerstitel in te oes en ek is baie trots op die hele span,” het Verstappen ná sy jongste triomf gesê.

Nodeloos om te sê is spanbaas Christian Horner in sy noppies met Verstappen en kie se puik vertonings.

“Dit is te danke aan almal se harde werk dat ons uitslae en prestasies soos dié kan vier. Daarbenewens is Max net op ʼn ander vlak en hy het weer eens met ʼn ongelooflike vertoning vorendag gekom,” het die 49-jarige Brit gesê.

Die volgende wedren is op 8 Oktober in Katar.

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 400 punte
  2. Sergio Perez: 223 punte
  3. Lewis Hamilton: 190 punte
  4. Fernando Alonso: 174 punte
  5. Carlos Sainz: 150 punte
  6. Charles Leclerc: 135 punte
  7. Lando Norris: 115 punte
  8. George Russell: 115 punte
  9. Oscar Piastri: 57 punte
  10. Lance Stroll: 47 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 623 punte
  2. Mercedes: 305 punte
  3. Ferrari: 285 punte
  4. Aston Martin: 221 punte
  5. McLaren: 172 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.