Wimbledon-organiseerders gerat vir enige scenario

Foto: Bob Martin/AELTC/AFP.

Volgens die Britse regering kan toeskouers reeds teen 17 Mei by sportgebeure toegelaat word, terwyl stadions moontlik op 28 Junie op volle kapasiteit kan funksioneer.

Maar, sê die organiseerders van die gewilde Wimbledon-tennistoernooi, hulle sal gerat wees vir enige moontlike scenario in die onsekere Covid-19-era.

“Ons sal voortgaan met ons beplanning om die beste kampioenskap binne ons vermoë aan te bied. Die veiligheid van die spelers, gaste en personeel is steeds ons hoofprioriteit.”

Die organiseerders het Brittanje se entstofprogram geloof, maar bygevoeg dat hulle nie die wa voor die osse sal inspan nie.

“Ons beplanning sal die moontlikheid van toeskouers, minder toeskouers sowel as geen toeskouers nie insluit. Dit is belangrik om so buigsaam as moontlik te wees in hierdie tye en die regering se regulasies te volg.”

Die wêreldwye pandemie het die organiseerders verlede jaar genoop om die toernooi vir die eerste keer sedert 1945 te kanselleer.

Wimbledon het egter steeds ongeveer R210 miljoen in prysgeld aan die deelnemers uitbetaal.

“Ons is bly dat ons versekeringspolis ons toegelaat het om erkenning te gee aan die impak van die kansellasie op die spelers en dat ons nou die betaling kan bied as ʼn beloning vir die harde werk wat hulle ingesit het,” het Richard Lewis, uitvoerende hoof van die All England Club, destyds gesê.

Wimbledon vind van 28 Junie tot 11 Julie plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.