Wolff sê Hamilton, Russell is beste

Mercedes se Toto Wolff. Foto: Jim Watson/AFP.

Dink maar verder wat jy wil van Toto Wolff; die Oostenryker is baie lojaal jeens sy Mercedes-renjaers. Behalwe as jou naam Valtteri Bottas is, natuurlik.

Die Mercedes-spanbaas het nie doekies omgedraai toe die Duitse sporttydskrif Sport Bild hom pols oor wie presies die beste renjaers van die 2022-seisoen is nie.

Volgens Wolff is die twee talentvolste renjaers in sy kraal, terwyl die verdedigende wêreldkampioen darem ook onder die topdrie tel.

“Lewis Hamilton, George Russell en Max Verstappen. In daardie volgorde,” was sy onmiddellike antwoord.

Russell het vanjaar vir die eerste keer agter die stuur van ’n Mercedes ingeskuif nadat hy vir Bottas as Hamilton se spanmaat vervang het.

George Russell en Lewis Hamilton. Foto: John Thys/AFP.

Ondanks die jong Brit se versekering dat hy nie nou al van plan is om Hamilton se kollig te steel nie, het hy al in 2020 gewys dat hy oor die nodige talent beskik.

Hy was destyds in Bahrein goed op koers na sy eerste oorwinning, nogal in Hamilton se vuurwa nadat die sewemalige wêreldkampioen weens ’n positiewe toets vir Covid-19 nie aan die wedren kon deelneem nie, toe die noodlot hom tref.

Sy sprokiesverhaal is deur ʼn onvergeeflike fout deur die Mercedes-renspan gekelder wat sy motor tydens ʼn kuipestop met verskillende bande toegerus het.

In die openingswedren van 2022 – in die einste Bahrein – het Hamilton en Russell onderskeidelik derde en vierde klaargemaak, maar hulle was nie veel van ’n bedreiging vir die vlieënde Ferrari’s of vir Verstappen in sy Red Bull nie.

Max Verstappen. Foto: Twitter.

So terloops, volgens Red Bull se Helmut Marko is die span se brandstofprobleme iets van die verlede en Verstappen behoort saam met Sergio Perez op alle suiers in Saoedi-Arabië te vuur.

Wolff is egter ook vol vertroue dat Mercedes se probleme ook spoedig uitgesorteer sal word – dalk net nie sou gou soos die volgende wedren nie.

“Ons moet besef dat ons nie tans oor dieselfde krag as ander spanne beskik nie. Hoe gouer ons dit besef, hoe beter.”

O ja, wie beskou Wolff dan as die beste renjaers ooit?

“Michael Schumacher, Lewis Hamilton en Ayrton Senna.”

Sondag se aksie in Saoedi-Arabië begin om 19:00 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

hendrie ·

Mynsinsiens is Senna no 1 en Schumacher met ‘n haarbreedte, in die tweede plek. Daar’s te veel renjaers om op te noem wat laaank voor Hamilton in die derde posisie is. :-)

piet ·

Schumacher, Hamilton en Prost volgens my alhoewel Hamilton die meeste oorwinnings het. Ek was ‘n groot fan van Schumacher en Prost toe ek nog F1 gekyk het. Nogal snaaks hoe dit werk in verskillende sportsoorte. In F1 verkies ek die meer charismatiese, presisie bestuurders wat minder kanse vat. In boks het ek weer gehou van die wilde fighters soos Duran en Tyson.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.