Atletiek kry momentum

Justin Gatlin. Foto: AP Photo/Martin Meissner, File

Die nuwe Grand Prix Atletiek-reeks skop op 1 Maart af en beloof om vir heelwat vuurwerk te sorg. Dis dalk net die regte medisyne vir ons atlete ter voorbereiding van die internasionale seisoen van 2018. Die prysgeld vir die drie byeenkomste beloop R1 365 000.

Die wêreld se 100 m-kampioen, Justin Gatlin, het bevestig dat hy aan die 150 m wedloop in Pretoria op 8 Maart sal deelneem. Dit sal tydens die tweede byeenkoms van die reeks wees. Gatlin het nog nooit aan ʼn 150 m-wedloop deelgeneem nie.

Gatlin wat spog met drie wêreldtitels en ʼn Olimpiese titel, is die vernaamste atleet wat Suid-Afrika besoek sedert Michael Johnson en Marion Jones aan die begin van die eeu.

Die Grand Prix-reeks se eerste byeenkoms vind op Donderdag 1 Maart by die Ruimsig-atletiekstadion in Roodepoort plaas. Daarna verskuif die aandag na Pretoria vir die tweede byeenkoms op 8 Maart. Die derde en finale byeenkoms word op 22 Maart in die Paarl aangebied.

As ʼn mens in ag neem dat die Statebondspele net om die draai is, is dit ʼn uiters belangrike voorbereiding vir Suid-Afrika se atlete wat wel in Australië in aksie gaan wees.

Caster Semenya. Foto: Karwai Tang/ANA

Ander atlete wat aan die Grand Prix-reeks gaan deelneem sluit in Joshua Cheptegei, Anaso Jobodwana, Retshidisitswe Mlenga, Caster Semenya, Clarence Munyai, Trentavis Friday, Justin Walker, Julius Yego, Ronald Musagala en Ruswahl Samaai.

Die 200 m vir mans op 1 Maart behoort die groot trekpleister te wees. Anaso Jobodwana sal teen die juniorkampioen, Clarence Munyai, in die blokke sak. Jobodwana het die afgelope naweek sy persoonlike beste van 10,10 s in die 100 m aangeteken. Hulle grootste teenstand sal kom van Botswana se Isaac Makwala.

Die wêreld se 10 000 m silwer medalje wenner, Joshua Cheptegei, sal aan die 1 500 m deelneem. Hy sal sterk teenstand kry van Jerry Motsau, Folavio Sehohle, die nasionale kampioen Dumisane Hlaselo en die jong ster Ryan Mphahlele.

In die hoogspring vir mans is alle oë op die jong Breyton Poole wat spog met ʼn hoogte van 2,25 m. Hy kom te staan teen Mpho Links (2,23 m) en die Suid-Afrikaanse kampioen Chris Moleya, wat ook al 2,25 m oorgesteek het.

Kaartjies vir die byeenkomste is aanlyn te koop. Besoek www.webtickets.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.