Oud-atletiekbaas glo terug in Senegal

Lamine Diack, Foto: Thomas Samson/AFP.

Volgens berigte is die voormalige hoof van die IAAF (nou Wêreldatletiek), Lamine Diack, terug in Senegal.

Die 87-jarige Senegalese burger is verlede jaar in Parys skuldig bevind op aanklagte van korrupsie nadat hy gedurende sy dienstydperk omkoopgeld van Russiese atlete aanvaar het.

AFP berig dat Diack se familielede hom gister met blydskap en dankbaarheid by een van sy geboorteland se lughawens terugverwelkom het.

Volgens een van die familielede, wat verkies om anoniem te bly, sal die voormalige verspringster die tyd gebruik om te rus en die grafte van sy geliefdes te besoek.

Diack se regspan het juis destyds aangevoer dat sy hoë ouderdom moontlik kan sorg dat hy tronkstraf vryspring.

Hy is egter in Frankryk aangehou weens sy vermeende betrokkenheid by nog ’n saak en daar is beslag gelê op sy paspoort.

’n Regter het egter onlangs die reisverbod opgehef, mits Diack aan sekere voorwaardes voldoen soos om op dagvaardigings te reageer.

Die voormalige atletiekbaas was van 1999 tot 2015 een van die invloedrykste mense in die sportwêreld. Hy het egter gesorg dat die uitslae van toetse vir die gebruik van verbode middels deur Russiese atlete toegesmeer word sodat hulle selfs aan die 2012- Olimpiese Spele in Londen kon deelneem.

Hy het in die proses $3,74 miljoen omkoopgeld ontvang wat hy onder meer gebruik het om ander beamptes vir hul stilswye te vergoed. Volgens die hof het sy optrede die waardes van atletiek en die sport se stryd teen dwelmmisbruik ondermyn.

Rusland is in Desember 2019 vir vier jaar deur die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels (Wada) verbied om aan enige groot wêreldsportgebeurtenis deel te neem.

Die 87-jarige se seun, Papa Massata Diack, is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, terwyl hy met $1,2 miljoen beboet is. Hy was destyds die IAAF se bemarkingskonsultant en sy maatskappye het $15 miljoen ontvang terwyl sy pa in beheer van sake was.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.