Spele nie altyd musiek in Bach se ore

Die IOK se Thomas Bach. Foto: Fabrice Coffrini/AFP.

Thomas Bach, die president van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), het erken dat die komende Tokio-skouspel vir slapelose nagte sorg.

Die wêreldwye Covid-19-pandemie het nie net beteken dat die Spele aanvanklik met ’n jaar uitgestel is nie, maar dit sorg steeds vir talle logistieke en gesondheidsprobleme.

Maroela Media het oor die naweek berig dat atlete al positief vir die virus in die Olimpiese dorpie getoets het, terwyl ’n groot deel van die Japanse bevolking ook teen die aanbieding van die Spele gekant is.

“In die afgelope 15 maande moes ons talle moeilike besluit neem en ons het daagliks met onsekerheid geworstel. Daar was vergaderings, gesprekke en slapelose nagte,” het Bach gesê.

“Dit het swaar op my gemoed gelê, maar ons moes met selfvertroue lei om ’n pad uit die krisis-situasie te vind.”

Daaglikse toetse vir Covid-19 is atlete en beamptes se voorland, terwyl 80% van die deelnemers die entstof ontvang het.

“Maar ons kan uiteindelik die lig aan die einde van die donker tonnel sien. Ons het dit nooit oorweeg om die Spele te kanselleer nie. Die IOK laat nooit sy atlete in die steek nie; ons het dit vir hulle gedoen.”

Die Spele sal egter grotendeels agter geslote deure aangebied word en die geluid van toeskouers se spontane ondersteuning sal hoofsaaklik oor luidsprekers gehoor word.

Seiko Hashimoto, hoof van Tokio se Olimpiese Spele, het gesê geen toeskouers sal in Tokio en drie van die omliggende streke, waar die meeste van die byeenkomste gaan plaasvind, toegelaat word nie.

“Reëls sal wissel van streek tot streek, maar ʼn beperkte aantal toeskouers sal wel by sommige byeenkomste buite dié vier streke toegelaat word.”

Hashimoto, wat self ʼn voormalige Olimpiese atleet is, het die publiek gevra om begrip te hê vir die besluit wat die komitee moes neem.

“Ek is jammer vir diegene wat teleurgesteld is, maar dié verbod was die enigste uitweg om die verspreiding van die virus hok te slaan.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.