Australiese Ope: sake nou vuurwarm

Roger Federer. (Foto: AP Photo/Andy Brownbill)

Dis maar weer drie van die Groot Vier van mans-wêreldtennis wat die septer in vanjaar se Australiese Ope swaai.

Ja, die Brit Andy Murray, wat ʼn lid van die Groot Vier is, is vanweë ʼn heupoperasie nie vanjaar in Melbourne in aksie nie, maar nie eens die byna ondraaglike hitte kon die ervare Rafael Nadal, Roger Federer en Novak Djokovic van stryk bring nie. Hulle weet om hul energie te bewaar, hulle weet wat die kortpaadjies in tennis is.

Nadat Nadal reeds Dinsdag die laaste ronde van 32 gehaal het, het die Switserse meester Federer Woensdag die Duitser Jan-Lennard Struff met 6-4, 6-4, 7-6 (7-4) uitgestof.

Federer kom nou in die derde ronde teen die Fransman Richard Gasquet te staan.

Vroeër, oor die middaguur, het die Serwiër Djokovic, wat die titel reeds ses keer gewen het, in versengende hitte waar die kwik tot 39 grade Celcius gestyg het, die Fransman Gael Monfils met 4-6, 6-3, 6-1, 6-3 geklop.

Monfils, wat die eerste stel gewen het, het in die tweede stel duiselig begin raak en het die baan saam met ʼn dokter verlaat.

“Vir seker vat ons ’n kans,” het die 31-jarige Fransman aan die BBC gesê.

“Albei spelers speel in dieselfde toestande, maar dit is ʼn bietjie te warm,” het Monfils bygevoeg.

Sake het ook goed verloop vir die vyfde gekeurde Dominic Thiem van Oostenryk, wat die Amerikaner Denis Kudla met 6-7 (6-8), 3-6, 6-2, 6-2, 6-3 uitgeskakel het.

Die Argentyn Juan Martin del Potro en die Tsjeg Tomas Berdych is ook deur, maar dit is totsiens vir die sewende gekeurde David Goffin van België, Stan Wawrinka van Switserland en Sam Querry van Amerika.

In die vroue-afdeling was daar weer die gebruiklike skok of twee toe die Brit Johanna Konta teen Bernarda Pera, die Kroaat wat nou in Amerika woon,  verloor het.

Die Taiwanees Hsieh Su-wei het Garbine Muguruza, die Wimbledonse kampioen,  met 7-6(7-1), 6-4 geskok en daar was ook oorwinnings vir Maria Sharapova (Rusland) en die Roemeen Simona Halep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.