All Black-legende se seun wen gholftoernooi

Die Suid-Afrikaner Zander Lombard in 2018. (Foto: Andy BUCHANAN / AFP)

Die seun van die legendariese All Black-losskakel Grant Fox het die Ras Al Khaimah Classic in die Verenigde Arabiese Emirate op die DP World-toer met vyf houe gewen. Ryan Fox (-22) het van die eerste ronde af voorgeloop en die laaste ronde met ʼn voorsprong van ses houe afgeslaan.

Die Engelsman Ross Fisher (-17) was alleen tweede. Die Suid-Afrikaner Zander Lombard (-16) het in die laaste ronde vinning opgeskuif en gesamentlik derde klaargemaak. Hy het sy finale ronde in 65 houe, sewe beter as die baansyfer, voltooi.

Die Suid-Afrikaners Oliver Bekker, George Coetzee en Justin Harding was almal gesamentlik negende, 13 houe agter Fox. Nog drie Suid-Afrikaners, Brandon Stone, Daniël van Tonder en Thriston Lawrence, was nog ʼn hou verder terug.

Die Duitser Alexander Knappe (-23) het die Dimension Data Pro-am by Fancourt in George met een hou gewen. ʼn Voëltjie op die laaste putjie het die toernooi vir hom beklink nadat hy die laaste ronde met ʼn voorsprong van een hou afgeslaan het. Die Duitser was voor sy oorwinning 432ste op die wêreldranglys. Die Suid-Afrikaner Dean Burmester was in die tweede plek, een hou agter Knappe.

Op die Amerikaanse PGA-toer is die Amerikaner Sahith Theegala (-14) ná die derde ronde een hou voor Brooks Koepka. Die jong Suid-Afrikaner Garrick Higgo (-10) is vier houe agter die voorloper in die 12de plek nadat hy sy derde ronde in 64 houe, sewe beter as die baansyfer, voltooi het. Louis Oosthuizen (-9) is een hou verder agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.