Amerikaanse Meesters: Swak lig weer wenner

(Foto: The Masters/Twitter)

Nou weet mens waarom sekere hoofstroomsportsoorte eerder in die somermaande en die ander in die drie ander seisoene gespeel word.

Die tweede ronde van die Amerikaanse Meestersgholftoernooi kon Vrydag (Suid-Afrikaanse tyd) op Augusta die tweede agtereenvolgende dag nie voltooi word nie vanweë swak lig nadat dit boonop op die eerste dag gereën het.

Onthou dat die toernooi in die somer gespeel sou word, maar maande lank uitgestel is nadat dit in die kloue van die Covid-19-pandemie beland het.

Dit gaan die organiseerders grys hare besorg, want 46 van die 72 spelers, wat Suid-Afrika se Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel insluit, moet nog hul tweede rondes voltooi … en dit raak vroeg donker.

Oosthuizen het darem 12 putjies voltooi, maar Schwartzel slaan vroeg Saterdagoggend op die tweede putjie af nadat hy skaars 20 minute op die baan was voordat dit te donker geword het. Dan moet hy nog sy derde ronde ook inpas.

Dink net daaraan hoeveel ontwrigting en frustrasie dit veroorsaak, om ure lank op die oefenbowwe of klubhuis deur te bring en te wag, net om in die bek geruk te word – hoewel daar geen ander keuse is nie.

Soos sake staan, is die Amerikaners Dustin Johnson, Justin Thomas en Cameron Smith saam met die Mexikaan Abraham Ancer voor op 135 houe, nege houe onder die baansyfer. Al vier spelers het darem hul rondes voltooi.

Hulle word gevolg deur die Spanjaard Jon Rahm (12de putjie), Hideki Matsuyama van Japan (15de putjie), Patrick Cantlay van Amerika en die Koreaan Sungjae Im op 135.

Oosthuizen, wat nog ses putjies moet voltooi, is saam met vier ander spelers, wat die drie Engelse Tommy Fleetwood, Justin Rose en Danny Willett insluit, op 136, ses houe onder die baansyfer.

Dylan Frittelli, wat Vrydagoggend saam voor was nadat hy sy eerste ronde in 65 houe voltooi het, het 73 houe in die tweede ronde aangeteken en is op 138 saam 14de.

Christiaan Bezuidenhout (142) kan die afsnypunt oorleef, maar Justin Harding (146) se droom is straks daarmee heen.

Voorste tellings ná onvoltooide tweede ronde:

135– Abraham Ancer 68 67, Cameron Smith 67 68, Justin Thomas 66 69, Dustin Johnson 65 70.

136– Patrick Cantlay 70 66, Sungjae Im 66 70, Hideki Matsuyama 68 57 (15de), Jon Rahm 69 42 (12de).

137– Louis Oosthuizen 68 44 (12de), Tommy Fleetwood 71 66, Justin Rose 67 70, Danny Willett 71 66, CT Pan 70 58 (7de).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.