Amerikaanse PGA-toernooi: Kan die goue seun vasbyt?

Jordan Spieth (Foto: Jordan Spieth/Facebook)

Die Amerikaners wag al jare lank daarvoor – dat een van die gawe ouens in gholf weer die hoofopskrifte haal.

ʼn Paar jaar gelede het Jordan Spieth (27) die gholfwêreld aan sy voete gehad. Hy het binne die bestek van drie jaar, tien toernooie in die Amerikaanse PGA-reeks gewen, wat drie Majors ingesluit het. Maar in 2018 het dinge vir Spieth verkeerd begin loop en het die wêreld se voorste speler nie een keer kon wen nie.

Dit was ʼn pynlike ervaring, want Spieth is op die hande gedra, hy was een daardie persone wat die silwer randjie aan ʼn donker wolk kon plaas.

Hy was die goue seun, sonder enige bagasie.

Sy Jordan Spieth Foundation ondersteun mildelik vier liefdadigheidsorganisasies, kinders met pediatriese kanker, dié wat spesiale behoeftes het, junior gholf en die Amerikaanse oorlogsveterane … en hy hang dit nie aan ʼn groot klok nie. Hoe dan anders, want sy jonger sussie Ellie het outisme en sy hou sy voete op die grond. Sy vrou, Annie, is ook met haar liefdadigheidswerk die spieëlbeeld waarna enige Amerikaner streef.

Spieth is ná die tweede ronde van die AT&T Pro Am-toernooi, wat by Pebble Beach in Kalifornië beslis word, op 130 houe 12 onder die baansyfer en een hou voor nog ʼn Amerikaner Daniel Berger.

Spieth het die tweede rondte (64 houe) op die Spyglass-baan voltooi nadat hy sy eerste rondte op Pebble Beach, wat sonder amateurs of toeskouers beslis word, gespeel het en 66 houe aangeteken het.

Die Sweed Henrik Norlander is derde op 132 nadat hy 70 houe op Spyglass angeteken het, met die Amerikaner Patrick Cantlay, wat Donderdag 62 houe op Pebble Beach aangeteken het, die Engelsman Paul Casey en sy langdgenoot Tom Lewis, saam vierde op 135.

Phil Mickelson, wat dié toernooi reeds vyf keer gewen het, kon nie die valbyl vryspring nie nadat hy op die 18de putjie twee keer die bal in die see laat beland het vir ʼn liederlike 80.

* Suid-Afrika se Branden Grace is op 140 houe, vier houe onder baansyfer nadat hy rondtes van 71 en 69 op sy telkaart ingevul het.

* Daar is vandeesweek geen toernooi in die Europese reeks nie.

* Bron: golfdigest.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.