Burmester blaas vuurwarm op The Belfry

Dean Burmester tydens die PGA-kampioenskap in 2020. (Foto: Ben Stansall/ AFP)

Wanneer die Suid-Afrikaner Dean Burmester die stang vasbyt, is daar min dinge wat hom van ʼn oorwinning op die gholfbaan kan weghou.

Dit het hy skaars twee weke gelede gewys toe hy in die Tenerife Ope in Spanje 62 houe in die laaste ronde aangeteken het om die toernooi met vyf houe te wen.

Vrydag op The Belfry het hy 65 houe in die derde ronde van die Britse Meesters aangeteken en is dus slegs een hou agter die voorloper, die Engelsman Eddie Pepperill.

Pepperill, wat ʼn voëltjie op die 18de putjie aangeteken het, is op 206 nou 10 houe onder die baansyfer.

Hy word gevolg deur Burmester, die twee Italianers Edoardo Molinari en Guido Migliozzi, die twee Skotte Callum Hill en Robert MacIntyre, asook die Pool Adrian Meronk.

Burmester, wat op die eerste putjie verbrou het nadat hy ʼn hou aan baansyfer afgestaan is, het 6 voëltjies en ʼn arend aangeteken om die ronde in sewe houe onder die baansyfer te voltooi.

Nog ʼn Suid-Afrikaner Justin Harding, wat op 21 Maart die Kenia Classic gewen het, is op 208 ook binne trefafstand, met Louis de Jager op 210.

Die Byron Classic

In Amerika is Charl Schwartzel (133 houe) in die gesamentlike sesde posisie ná die tweede ronde van die Byron Classic-toernooi wat op TPC Craig Ranch gespeel word.

Die Amerikaner Sam Burns (127) is voor en word gevolg deur Alexander Noren van Noorweë (128) en Kyong-Hoon Lee van Korea (130).

SA Ope vir vroue

Op die Westlake-baan in Kaapstad is die Suid-Afrikaner Nicole Garcia (144) met een hou voor haar landgenoot Lee-Anne Pace en Leonie Harm (Duitsland) ná die tweede ronde van die Suid-Afrikaanse Ope vir vroue.

Hulle word gevolg deur Kylie Henry (Skotland) op 146.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.