Die klok het gelui vir Tiger Woods

Tiger Woods het vir die laaste keer op St. Andrews in Skotland na die 18de setperk gestap. (Foto: Paul Ellis/AFP)

So hartseer soos dit is, is dit duidelik dat gholf se grootste superster van die laaste paar dekades nie meer met sukses op die grootste verhoog kan meeding nie.

Die 46-jarige Amerikaner se wisselvallige en gebrekkige spelpeil is die afgelope week op St. Andrews in die 150ste Britse Ope-kampioenskap aan die kaak gestel. Die opkoms en teenwoordigheid van ’n groot aantal jong spelers wat vreesloos is en die spel baie goed kan speel, is ook onderstreep.

Woods het duidelik elke oomblik alles gegee en deurentyd sy allerbeste probeer, maar sy swak setwerk en kortspel rondom die kort grassies was ver benede die spelpeil wat hom in sy loopbaan ’n allemintige 15 Major-titels besorg het.

’n Mens kon sien dat daar niks met Woods se gholfbrein skort nie. Hy het sy strategie haarfyn beplan, maar kon dit ongelukkig nie perfek uitvoer nie soos in die jare 2000 en 2005 toe hy die gesogte Claret Jug triomfantelik op die einste St. Andrews omhoog gelig het. Daardie twee keer het hy sy naaste teenstanders met onderskeidelik agt en vyf houe getroef en hulle op ’n drafstap na die gesogte kroon gesteek.

Vanjaar was egter ’n heel ander storie. Hoewel Woods van meet af heel op sy gemak voorgekom het, is sy fisieke beperkings ná vier rugoperasies, twee knieoperasies en ʼn motorongeluk in Februarie verlede jaar duidelik sigbaar. Hy het byna van sy eerste putjie mank gestap en hy beweeg deesdae heelwat stadiger as in die dae toe hy die wêreld se no. 1-speler was. Die tempo van sy swaai is ook aansienlik stadiger as in sy goue speeldae en hy kan nie meer die bal die afstand slaan wat hy in die verlede vermag het nie.

Dit is verstaanbaar dat Woods sukkel om te loop. Sy regter enkel is so te sê vergruis in verlede jaar se ontydige motorongeluk wat nou ’n groot vraagteken oor sy toekoms laat hang. Dokters wou sy been amputeer en net Woods se heftige teenkanting het verhoed dat die gholfster ’n ledemaat verloor het.

Tiger Woods in aksie op Augusta. (Foto: Gregory Shamus/Getty Images/AFP)

Dat Woods vandag enigsins naby aan normaal kan stap, is die resultate van ’n veggees wat hy van kindsbeen op die gholfbaan uitgestal het. Hy is deur sy pa, Earl, geleer om nooit op te gee nie, maak nie saak wat gebeur nie en hoe sleg dit ook al mag gaan. Daar is altyd lig aan die einde van die tonnel, was Woods sr. se leuse.

Om ’n suksesvolle gholfspeler te wees verg nie net Godgegewe talent nie. Ure en ure se slypwerk is daagliks nodig om ’n speler se spelpeil op ’n bestendige vlak te kry wat die betrokke speler in enige situasie kan laat presteer soos ’n geoliede masjien wat op sy eie loop.

Tiger Woods en sy seun, Charlie. Die jong Woods het reeds verskeie van sy pa se gholfgewoontes aangeleer. (Foto: Sam Greenwood/Getty Images/AFP)

Dis presies wat Woods in sy triomfantlike jare kon doen. Hy kon toe enige hou uit enige posisie speel en was verseker van suksesvolle resultate watter hou hy ook al aangedurf het.

In 1995 op Augusta toe ek Woods net voor die gesogte Syfer 3-toernooi – waar ek die Suid-Afrikaner Ernie Els se joggie was – die eerste keer ontmoet het, het hy gesê net harde oefening kan ’n speler suksesvol maak. Hy was toe reeds daarvoor bekend, of dit nou Kersdag, Nuwejaarsdag of sy verjaardag was, hy het daardie dae ook ure geoefen om die wêreld se beste te word. “Ek het altyd ’n voorsprong op die ander spelers. Dit maak nie saak watter dag dit is nie, daar moet geoefen word. Die ander spelers soek altyd ’n verskoning om nie te oefen nie. Dis waar ons verskil,” het Woods op die vooraand van sy tweede Grand Slam-kampioenskap gesê.

Woods het in 1994 as amateur om sy eerste Grand Slam-titel meegeding toe hy die eerste keer genooi is om in die gesogte Amerikaanse Meesters-toernooi te speel. Sy eerste kennismaking met die Britse Ope en St. Andrews was in 1995 toe hy ook nog as ʼn amateur die eerste keer sy voete op die Tuiste van Gholf gesit het. Sy speelmaats die eerste tweede dae daardie jaar was Els en die Amerikaner Peter Jacobsen.

Verlede week op St. Andrews nadat Woods nie die valbyl ná die eerste twee rondes kon vryspring nie, het Woods gesê sy liefdesverhouding met die magiese gholfbaan het in 1995 in die geselskap van Els en Jacobsen begin. Hy het toe reeds besef dat dié Skotse universiteitsdorp ’n spesiale plek is en dat die gholfbaan enig in sy soort is.

’n Intense studie van St. Andrews daarna en die haarfyn beplanning oor jare van ’n korrekte strategie om die gholfbaan baas te raak het aan Woods sukses in 2000 en 2005 op die gesogte ou baan besorg.

Dié kennis en beplanning het egter nie vanjaar gehelp nie en die stryd om die Ope-kroon is die afgelope naweek in Woods se afwesigheid beslis nadat gholfliefhebbers in hul tienduisende na die fraaie Skotse kusdorp opgeruk het om die Amerikaner die eerste twee dae op die baan te volg.

Toe dit op 15 Julie duidelik was dat Woods nie in die laaste twee dae van die Ope in aksie sou wees nie, het emosionele tonele hulle op St. Andrews afgespeel.

Tiger Woods en Gary Player. (Foto: Timothy A. Clary/AFP)

Woods is staande toegejuig deur derduisende aanhangers vandat hy oor die Swilken-bruggie gestap het die hele ent tot by die 18de setperk. Hulle het uit vensters van hotelle, gastehuise en private wonings gehang en op ’n streep langs die laaste putjie se skoonveld gestaan en juig om totsiens aan die gholfster te sê.

Net voordat Woods sy laaste kaphou van sy 31ste Ope-kampioenskap gespeel het, het die Ier Rory McIlroy op die aangrensende eerste skoonveld uit respek sy gholfpet vir sy mede-ster gelig. Die emosie was een te veel vir Woods en die trane het oor die wange van die Amerikaner gerol.

Agterna het Woods erken hy is onkant gevang deur die reusetoejuiging van die skare al is die Amerikaner al lankal ’n groot gunsteling op St. Andrews.

“Dit was spesiaal en sal my altyd bybly,” het hy oor die skare se optrede gesê.

Oor die kans dat Woods in die toekoms weer op St. Andrews in aksie sal wees, sê hy: “Ek sal beslis in die nabye toekoms in nog Ope-toernooie speel, maar ek weet nie of ek nog fisiek sal kan speel wanneer die Ope weer op St. Andrews plaasvind nie.”

St. Andrews se volgende beurt om gasheer vir die Ope te speel blyk 2030 te wees, maar ’n finale besluit en aankondiging moet nog deur die organiseerders gemaak word.

Tot dan hang ’n groot vraagteken oor Woods se verdere deelname aan die gesogste Major-kampioenskap en een wat na aan sy hart lê nog voordat hy hom by die beroepsgeledere aangesluit het.

Die klok het dus vir Woods gelui. Net tyd sal leer of dit die doodsklok was.

Tiger Woods wen die Meesterstoernooi (14 April 2019) (Foto: AP Photo/David J. Phillip, File)

Vir diegene wat dalk al vergeet het wat Woods in sy loopbaan vermag het:

  • 110: Aantal toernooi-oorwinnings wêreldwyd.
  • 82: Aantal oorwinnings in Amerikaanse PGA-reeks.
  • 41: Aantal oorwinnings in Europese reeks.
  • 25: Aantal oorwinnings in Japan (3), Asië (2), Australië (3) en die res van die wêreld (17) in toernooie wat nie deel is van die Amerikaanse en Europese reekse nie.
  • 15: Aantal Major-titels gewen (Amerikaanse Meesters 5, Amerikaanse Ope 3, Amerikaanse PGA 4, Britse Ope 3).
  • 683: Aantal weke gereken as wêreld no. 1-speler.
  • $120 miljoen: Prysgeld gewen.
  • $1,7 miljard: Woods se geskatte rykdom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

“Nag ou grote” . Hartseer om hom so te sien. Hy het egter golf in ‘n ander dimensie geplaas. Jammer sy dinge het nie uitgewerk nie maar mens kan net jou hoed lig en hom bewonder. Dankie vir wat jy vir golf gedoen het

piet ·

Dis jammer maar hier is ook ‘n les te leer. Dinge kan in ‘n oogwink van jou weggeneem word. Die positiewe is egter dat toe hy die geleentheid gehad het om te presteer, het hy dit gedoen. So wat gholf aanbetref, het hy niks om oor spyt te wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.