DP-wêreldkampioenskap: Lorenzo-Vera en Rahm kop aan kop

Argieffoto van Mike Lorenzo-Vera tydens ‘n vorige toernooi. (Foto: Facebook)

Die Franse gholfspeler Mike Lorenzo-Vera gaan nog die papelellekoors oor die 18de putjie van die Jumeirah-gholfbaan in Doebai kry.

Saterdag het hy, net soos in Vrydag se tweede ronde, weer ʼn hou aan syfer op dié putjie afgestaan nadat hy die bal in die water geslaan het en sy algehele voorsprong in die DP-wêreldkampioenskap prysgegee.

Lorenzo-Vera het 69 houe in die derde ronde aangeteken, maar hy is nie meer die alleenvoorloper nie, want die gevaarlike Spanjaard Jon Rahm (albei 201) is nou saam met hom voor nadat hy 66 houe op sy telkaart ingevul het.

Op die koop toe blaas die wêreld se tweede voorste speler, die Noord-Ier Rory McIlroy (203) in hul nekke, gevolg deur die Engelsman Tommy Fleetwood (205) wat alleen vierde is.

Die Belg Thomas Pieters is vyfde op 206.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout was weer bestendig toe hy 70 houe aangeteken het. Hy is op 208 in die gesamentlike sewende plek.

Maar Louis Oosthuizen het net soos verlede week in die Pilanesberg uitgesak toe hy 73 houe aangeteken het, wat hom op 213 in die gesamentlike 20ste plek plaas.

Richard Sterne is op 214 in die gesamentlike 24ste plek en Erik van Rooyen is ná sy 73 32ste.

Argieffoto van Jon Rahm tydens ‘n vorige toernooi. (Foto: Facebook)

Lorenzo-Vera was bestendig oor die eerste 17 putjies en het vier voëltjies in sy ronde aangeteken.

Geen druk, geen fout.

Maar toe het die senuwees weer op die 18de gelol nadat hy ses houe op die syfer 5-putjie aangeteken het.

Sal enige ondersteuner ʼn geldjie op die Fransman waag wat nog nooit ʼn toernooi in die Europese reeks sedert 2005 kon wen nie en vier keer ná die derde ronde voor was, maar nie kon wen nie?

Boonop ken Rahm die baan soos die palm van sy hand, want hy het immers in 2017 ook dié toernooi beklink.

* As hy seëvier, kan by ook die goue boerpot van die Wedloop na Doebai beklink, wat byna R87 miljoen sal beteken.

Rahm het volgens die beroepswedders ʼn 72,3%-kans om die boerpot te wen, met Fleetwood (18,9%) sy grootste teenstander.

Bernd Wiesberger (8,7%) is ook in die wedloop, asook Shane Lowry en Matthew Fitzpatrick (albei 0,1%), maar met byna geen wenkans nie.

Volgens Rahm gee dit hom hoendervel, veral omdat hy sy naam dan by ander Spaanse legendes soos Seve Ballesteros, José María Olazábal, Sergio Garcia en Miguel Ángel Jiménez sal voeg wie se name ook op die Harry Vardon-trofee verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.