Du Plessis in die wolke oor LIV-reeks

Hennie du Plessis (Foto: Adrian Dennis / AFP)

Van Swartwater in Limpopo se Bosveld tot die glinsterstad van Miami in Florida waar daar miljoene der miljoene vandeesweek op die spel is.

Boonop staan van die wêreld se grootste musieksterre reg vir ’n reusemakietie vir die Suid-Afrikaner Hennie du Plessis en die res van die LIV-spelers wat van Vrydag sake uitspook op die veel geroemde Blue Monster-baan by die Doral-gholfoord.

Dié eksklusiewe spog-oord is die eiendom van die omstrede oudpres. Donald Trump.

Die 26-jarige Du Plessis het Maandag ’n laat verjaardaggeskenk gekry toe hy deur sy landgenote Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel en Branden Grace gevra is om deel te word van die Stinger-span vir vandeesweek se geldryke LIV-spantoernooi.

Du Plessis was deel van die Stinger-span vir die eerste drie LIV-toernooie, maar is daarna vir die laaste vier deur Shaun Norris vervang.

Die Stinger-span se beste vertoning van die seisoen was juis in die eerste toernooi in Junie in Engeland toe hulle die ander 11 spanne uitgestof het dansky Du Plessis se tweede plek en spanmaat Schwartzel, wat die kroon met sprankelspel verower het.

Die Londense kampioenspan is nou weer herenig en Du Plessis, wat sowat twee weke gelede tydens die LIV-toernooi in Jeddah verjaar het, hoop hy bring die SA span ’n tikkie geluk in hul strewe na die wentjek van $16 miljoen (sowat R288 miljoen) in die toernooi wat met ’n pryspot van $50 miljoen (sowat R900 miljoen) spog.

“Die LIV-reeks het my hele lewe verander en ek is Louis, Charl en Branden baie dank verskuldig. Hulle was al drie my helde terwyl ek grootgeword en die spel leer speel het. Om saam met hulle in ’n span te kan speel, is onbeskryflik…’n droom wat waar geword het,” sê Du Plessis.

Hy het in die eerste drie LIV-toernooie altesame $3,53 miljoen (sowat R64 miljoen) verdien en kan Sondag ’n verdere $4 miljoen (R72 miljoen) in sy sak steek sou hy en sy SA spanmaats weer seëvier.

Oosthuizen (sowat R79 miljoen), Schwartzel (sowat R128 miljoen) en Grace (sowat R280 miljoen) het almal vanjaar prysgeld ingeryg, maar sal beslis nie ongeneë wees om saam met Du Plessis hul Kerskouse met nog ’n paar miljoen dollar te stop nie.

Indien die viertal Suid-Afrikaners nie suksesvol op die gholfbaan is nie, kan hulle van die baan af skouers skuur met van die VSA en straks die wêreld se grootste musieksterre.

Die rappers Snoop Dog, Nelly en Travis Scott sal saam met die elektroniese DJ-duo The Chainsmokers die LIV-spelers en hul gaste saans met musiek trakteer en hopelik verseker dat hulle litte lekker los is wanneer hulle op die baan stap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.