Dubai-gholf: Grace net vier houe agter

Branden Grace (Foto: Cliff Hawkins/Getty Images/AFP)

Die grootste pryspot in wêreldgholf knipoog vir die beste spelers wat in die Europese reeks speel, maar toe kom ʼn Amerikaner, Patrick Reed, en bederf hul partytjie.

Reed, wat 64 houe in die tweede ronde van die DP World Tour-kampioenskap aangeteken het wat by die Jumeirah Beach-gholfbaan in Dubai beslis word, loop op 134 houe (tien houe onder die baansyfer) met twee houe voor die Engelsman Matthew Fitzpatrick (136), wat gevolg word deur sy landgenote Tyrrell Hatton en Laurie Canter (albei 137).

Suid-Afrika se Branden Grace is saam met die Fin, Sami Valikami, en nog twee Engelse, Tommy Fleetwood en Lee Westwood, op 138, net vier houe agter Reed.

Erik van Rooyen (Foto: Rob Carr/Getty Images/AFP)

Grace, wat 72 houe in die eerste ronde aangeteken het, het Vrydag sewe voëltjies in sy ronde van 66 houe ingerol en net een keer ʼn hou aan baansyfer afgestaan.

Van die ander Suid-Afrikaners is Erik van Rooyen (141) en Shaun Norris (albei 141) stewig in die wedloop, met Christiaan Bezuidenhout (142), George Coetzee en Dean Burmester (albei 143), Brandon Stone (144), Justin Harding (146), Garrick Higgo (147) en Wilco Nienaber (149) wat ook die pryspot van R46,9 miljoen najaag.

* In Naples, Florida, is die Suid-Afrikaner Louis Oosthuizen en sy speelmaat Bubba Watson (60) vier houe agter die voorlopers, Kevin Na en Sean O’Hair, ná die eerste ronde van die QBE-uitskiettoernooi, wat 56 houe in die eerste ronde gespeel het.

Die eerste ronde in dié liefdadigheidstoernooi is volgens die Scramble-formaat (albei spelers slaan af, maar die tweede houe word van die speler se bal wat die gunstigste lê, gespeel).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.