Fleetwood in trane ná tweede oorwinning

Tommy Fleetwood (Foto: Daniel Bockwoldt/dpa/AFP)

Twintig jaar gelede toe hy ’n jong kind was, het hy die Nedbank-uitdaagtoernooi op Sun City op televisie gevolg en gedroom om eendag daarin te speel. Vandag is hy ’n tweemalige wenner van dié gesogte titel.

Die 31-jarige Tommy Fleetwood is Sondag as die 40ste Nedbank-kampioen gekroon nadat hy die Nieu-Seelander Ryan Fox op die 72ste putjie na die kroon verbygesteek het.

Trane van vreugde het oor die wange van die bebaarde Engelsman se gesig geloop, terwyl ’n erg teleurgestelde Kiwi manmoedig sy kop omhoog gehou en met ’n wrang glimlag gesê het hy is deur ’n beter speler geklop.

Fleetwood, wat in 2019 ook die Nedbank-titel gewen het, het Sondag se vierde en laaste ronde in 67 houe – vyf houe minder as die baansyfer – voltooi om op ’n totaal van 277 (-11) boaan die voorlopersbord te eindig.

Fox het ’n telling van 68 aangeteken om op 278 een hou agter Fleetwood klaar te maak.

Indië se Shubhankar Sharma (68) het op -9 in die derde plek geëindig, gevolg deur Richie Ramsay (69) op -8.

Christiaan Bezuidenhout (72) het die toernooi as die voorste SA speler afgesluit nadat hy en Sebastian Soderberg (67) op -7 die vyfde plek gedeel het.

Dit was so amper of die weergode het Fleetwood van ’n tweede Sun City-titel weerhou. Spel is Sondag omstreeks 11:00 gestaak weens dreigende weerlig en die spelers kon eers drie uur en 20 minute later weer na die baan terugkeer om die laaste ronde te voltooi.

Spel is Vrydag ook opgeskort weens weerlig en van die spelers moes Saterdag 33 putjies speel sodat die toernooi weer op skedule kon kom.

Voor Sondag se onderbreking was nie minder nie as tien spelers steeds in die wedloop om as kampioen gekroon te word.

Die voorlopers in daardie stadium was Rasmus Hojgaard op -10, met Fleetwood en Sharma op -9 en Branden Grace en Thomas Detry op -8 die gunstelinge om die eerste prys van $1 miljoen (sowat R17,3 miljoen) in hul sakke te steek.

Met die hervatting van spel het dinge op die telbord met elke putjie verander met Hojgaard, Grace en Detry wat uit die prentjie verdwyn het en Fox wat teruggeveg het om weer ’n sterk aanspraakmaker te word.

Ná 13 putjies het Fox en Sharma die pas aangegee, met Fleetwood ’n enkele hou agter hulle.

Die Engelsman het egter ’n derde arend by die 14de putjie aangeteken nadat hy die balletjie vanuit die sand links van die setperk tot in die blikkie geslaan het toe dit gelyk het of hy gaan sukkel om ’n syfer vyf aan te teken.

Fox en Sharma het op hul beurt albei goeie voëltjies by die 14de putjie aangeteken en dié drie spelers, wat saamgespeel het, was gelyk boaan die voorlopersbord toe hulle op die 15de bof gestaan het.

Brouhoue deur Sharma daarna op die 16de en 17de het sy aanslag beëindig, met Fox en Fleetwood wat albei op -11 die 18de aangepak het.

Die bonkige Fox het ’n teleurstellende bofhou links van die skoonveld getrek en kon nie die setperk met sy tweede hou haal nie. Sy daaropvolgende kaphou het sowat drie meter verby die blikkie gerol waarna hy twee sethoue nodig gehad het om die balletjie in die blikkie te kry, wat die oorwinning aan Fleetwood besorg het.

Die oomblik toe Fox se sethou vir syfer nie die blikkie gehaal het nie, het Fleetwood bewoë geraak en het die trane teen sy wange afgerol.

Fleetwood maak amper nie klaar nie

Fleetwood het verduidelik dat sy vrou en kinders die hele week saam met hom by Sun City was, maar sy oorwinningsoomblik misgeloop het omdat hulle reeds na Johannesburg onderweg was om per vliegtuig na Londen terug te keer.

Hy het ook onthul dat hy baie amper nie Donderdag in die toernooi afgeslaan het nie.

Hy het vroeër in die week sonsteek opgedoen en wou onttrek. Was dit nie vir ’n plaaslike dokter wat hom medisyne ingejaag het nie, sou hy nie kon speel nie.

“Dit was baie amper of ek het nie gespeel nie. Self Saterdagoggend het ek gedink ek gaan dit nie maak nie,” het Fleetwood oor sy ongesteldheid gesê.

Volgens Fleetwood het hy oor die laaste paar putjies net probeer om nie groot foute te maak nie en dit het gelukkig goed vir hom uitgewerk.

“Ek het die hele week eintlik goed gespeel en was baie kalm al het ek nie altyd goed gevoel nie. Die arend by die 14de was die keerpunt en ek was effens gelukkig, maar dit is daardie tikkies geluk wat die verskil tussen wen en verloor is.”

Oor sy tweede sege glimlag Fleetwood en sê hy het as kind die Sun City-toernooi op televisie gekyk en gedroom om eendag daarin te speel. Om dít twee keer te wen, was egter nie deel van daardie drome nie.

“Dis ’n spesiale toernooi en ’n spesiale oorwinning wat my altyd sal bybly,” het die Brit gesê.

Fox sê hy sou die tweede plek gevat het as dit voor die toernooi aan hom aangebied is.

“Ek is deur ’n beter speler geklop en aanvaar dit so.

“Waaroor ek gelukkig is, is die feit dat ek die hele week goeie gholf gespeel het. Ek reis met baie selfvertroue na Dubai vir die seisoen se laaste toernooi en miskien is dit volgende naweek my beurt om te wen.”

Die Nieu-Seelander se tweede plek by die Sonstad het die gaping tussen hom en Rory McIlroy op die Resies na Dubai-punteleer sodanig verklein dat hy bo die Ier kan eindig, sou hy hom in die laaste toernooi troef.

Die voorste tellings ná die vierde ronde (Brit, tensy anders vermeld):

277 – Tommy Fleetwood 70-70-70-67

278 – Ryan Fox (NS) 64-74-72-68

279 – Shubhankar Sharma (Ind) 72-69-69-69

280 – Richie Ramsay 69-71-71-69

281 – Sebastian Soderberg (Swe) 71-71-72-67, Christiaan Bezuidenhout (SA) 73-68-68-72

282 – Gavin Green (Mal) 72-65-75-70

282 – Min Woo Lee (Aus) 68-76-70-69, Richard Bland 68-68-75-72

283 – Maximilian Kieffer (Dui) 70-72-69-72, Rasmus Hojgaard (Den) 69-69-69-76, Branden Grace (SA) 70-67-71-75

284 – Jordan Smith 75-70-69-70, Ewen Ferguson 71-73-69-71, Scott Jamieson 71-71-70-72, Thriston Lawrence (SA) 74-69-65-76, Luke Donald 65-71-73-75, Thomas Detry (Bel) 73-67-67-77

285 – David Law 70-69-74-72, Sam Horsfeld 72-68-73-75, Ross Fisher 71-69-72-73, Adrian Otaegui (Spa) 69-70-72-74, Paul Waring 70-70-71-74, Richard Sterne 71-69-71-74

286 – Lucas Herbert (Aus) 69-72-74-71, Ashan Wu (Chi) 74-71-72-69, Marcel Schneider (Dui) 71-68-76-71, Yannik Paul (Dui) 73-72-74-67

287 – Joakim Lagergren (Swe) 72-71-74-70, Romain Langasque () 70-72-73-72, Fabrizio Zanotti (Par) 68-73-70-76

288 – Antoine Rozner (Frau) 71-77-69-71, Robert MacIntyre 73-72-75-70, Edoardo Molinari (Ita) 69-71-72-76, Jorge Campillo (Spa) 72-75-74-67

289 – Oliver Wilson 72-74-71-72, Dale Whitnell 70-75-70-74, Sam Crocker (VSA) 71-74-73-71, Oliver Bekker (SA) 72-72-75-70, Adrian Meronk (Pol) 76-73-72-68

290 – Marcus Armitage 74-75-68-73, Rafa Cabrero Bello (Spa) 72-74-73-71, Matthieu Pavon 75-72-72-71

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Waardige wenner, baie geluk. Teleurgesteld dat een van ons manne nie kon wen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.