Gemengde welslae vir SA gholfspelers

Suid-Afrika se Paula Reto. (Argieffoto: Vaughn Ridley/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se gholfspelers het Donderdag gemengde welslae wêreldwyd behaal.

In Kalifornië in die PGA-reeks se Farmers Insurance-toernooi op die uitdagende Torrey Pines-baan, moes Christiaan Bezuidenhout en Garrick Higgo albei hul tasse pak nadat hulle by die halfpadmerk onder die valbyl beland het.

Bezuidenhout en Higgo het onderskeidelik 70 en 69 houe in die tweede ronde gespeel, maar op 142 (-2) een hou buite die valbyl van 141 houe geëindig.

Bezuidenhout het verlede week meer as R27 miljoen in sy sak gesteek met sy tweede plek in die American Express-toernooi. Groot verwagtinge is vandeesweek van hom gekoester, maar dit blyk dat sy goeie vertoning hom eerder tam as skerp gelaat het. Hy kon nooit werklik momentum kry nie.

*In Florida in die LPGA-reeks het Paula Reto ʼn skaflike vertoning op die eerste dag van die Drive On-kampioenskap gelewer. Die Suid-Afrikaner het nie toegelaat dat die moeilike Bradenton-baan in Florida haar op haar knieë dwing nie en sy het ʼn telling van 70 (-1) op haar telkaart ingevul.

Reto het by die eerste putjie ʼn hou aan syfer afgestaan. Voëltjies by die tweede en vyfde het haar op -1 geplaas, waarna sy haar ronde met dertien agtereenvolgende syfers voltooi het.

Dwarrelwinde en die baan se klein en golwende setperke het sake vir die spelers moeilik gemaak en Reto was een van slegs 41 uit 120 spelers wat die baansyfer van 71 kon oortref.

*In die Verenigde Arabiese Emirate was Brandon Stone op -8 in die tweede plek ná die eerste ronde van die DP World-reeks se Ras Al Khaimah-kampioenskap.

Die Engelsman Colin Shinkwin het op -9 die pas aangegee.

Vrydagoggend, halfpad deur die oggendveld se tweede ronde, het Stone egter na die boonste trappie van die voorlopersbord geklim en ná 27 putjies op -11 die voortou geneem.

Zander Lombard het ook Vrydagoggend vroeg vorentoe gebeur en was met nege putjies oor in sy ronde op -8 in die vyfde plek nadat hy die eerste dag op -6 afgesluit het.

Daar lê egter nog ʼn lang pad voor vir enigiemand wat drome van welslae het.

*Op tuisbodem het die Sonskynreeks hervat en Oliver Bekker en Willie Olivier het op Maccauvlei in Vereeniging op -7 die voortou geneem ná die eerste ronde van die Mediclinic-uitnodigingstoernooi.

Bekker en Olivier se tellings van 65 is puik vertonings op ʼn gedugte baan wat ook heelwat water het om die spelers te toets.

Maccauvlei was in die verlede lank die tuisbaan van die Majorkampioene Bobby Locke en Charl Schwartzel.

Bekker is ʼn agtmalige Sonskynreekswenner, maar bevind hom deesdae effens in die wildernis. Sy vertoning Donderdag is dalk net die vonk wat hy nodig het om weer sy beste spelpeil te vind.

Vyf spelers, onder wie Jovan Rebula, beklee op -5 die gesamentlike derde posisie en hulle sal hoop om die twee voorlopers op te keil en na die kroon te steek oor die oorblywende drie rondes.

  • Bykomende inligting: PGA Tour, LPGA Tour, DP World Tour, Sunshine Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.