Gholf: Branden vuurwarm in LIV-toernooi

Suid-Afrika se Branden Grace. Foto: Andy Lyons/Getty Images/AFP.

Dit lyk nie of die wolk van omstredenheid wat oor die LIV-rebellegholfreeks hang, enige invloed op die vertonings van Suid-Afrikaanse spelers het nie.

Altesaam 16 spelers het die DP World-gholfreeks (voorheen bekend as die Europese reeks) met regstappe gedreig tensy hulle skorsings oor hul deelname aan die Europese reeks nie tersyde gestel word nie.

Nadat Charl Schwartzel verlede maand die eerste LIV-toernooi in Engeland gewen en sodoende R65 miljoen verdien het, kan die Suid-Afrikaners se bankbalanse in die tweede toernooi by Pumpkin Ridge in Portland in die VSA verder bult.

Die Amerikaner Dustin Johnson loop saam met Carloz Ortiz van Mexiko (albei -8) met twee houe voor Suid-Afrika se Branden Grace (-6).

Grace het vier agtereenvolgende voëltjies oor die laaste vier putjies aangeteken en slaan in Saterdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) se derde ronde af net twee houe agter Johnson en Ortiz.

Justin Harding is ook stewig geplaas op -5 en Louis Oosthuizen is op -4.

In die spanafdeling wink nog ʼn paar miljoene vir die Suid-Afrikaners se Stingers-span (-11), wat uit Grace, Oosthuizen, Hennie du Plessis en Schwartzel bestaan. Hulle is net vier houe agter die Amerikaanse Aces-span.

Die twee beste tellings is in Donderdag en Vrydag se eerste twee rondes gebruik en die drie beste tellings van elke span geld in Saterdag se laaste ronde om te bepaal wie die bykomende spanprys van R49 miljoen wen.

* In die Amerikaanse PGA-reeks loop JT Poston (127, -15) met vier houe voor ná die tweede ronde van die John Deere Classic wat in Silvis, Illinois, gespeel word.

Poston se Amerikaanse landgenoot Denny McCarty is vier houe agter op 131 (-11), gevolg deur nog twee Amerikaners, Chris Naegel en Chris Gotterup, Matthias Schwab van Switserland en Emiliano Grillo van Argentinië almal op 132 (-10).

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout (134, -8) is 15de, met Dylan Frittelli op 136 (-6) in die 24ste posisie.

* In die Ierse Ope (DP World-gholfreeks) wat by die Mount Juliet-buiteklub in Kilkenny gespeel word, loop Jorge Campillo van Spanje (133, -11) met een hou voor Adrian Meronk (Pole) en Fabrizio Zanotti (Italië) wat op 134 houe (-10) is.

Sewe spelers insluitende Ierland se Seamus Power, is op 136 drie houe agter en saam in die vierde posisie.

Van die Suid-Afrikaners het Thriston Lawrence (138, -6), Oliver Bekker (139, -5), Zander Lombard (140, -4) en Justin Walters en Brandon Stone (albei 141, -3) skaflik gevaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.