Gholf: Dubai-toernooi op meskant gebalanseer

Jon Rahm in aksie. (Foto: Stacy Revere/Getty Images/AFP)

Die Europese gholfbase kon nie vir ʼn beter draaiboek vir die laaste toernooi in vanjaar se Road to Dubai-reeks gevra het nie.

Die Spanjaard Jon Rahm (201, -15) loop ná die derde ronde met een hou voor in die DP World Tour-kampioenskap wat op die Jumeriah-baan in Dubai beslis word.

Rahm was onlangs nog die wêreld se voorste speler en een van Europa se gunstelingspelers.

Hy word op 202 (-14) gevolg deur die Engelsman Matt Fitzpatrick, wat vanjaar die Amerikaanse Ope gewen het en die jaar as Europa se voorste speler kan afsluit.

Die Sweed Alex Noren (203, -13) is derde, maar Rory Mcllroy van Noord-Ierland en die Engelsman Tyrrell Hatton (albei 203, -12) blaas in die voorlopers se nekke.

Fitzpatrick en McIIroy is in ʼn kwaai tweedstryd gewikkel om die Harry Vardon-trofee as Europa se beste spelers in hul trofeekas te voeg.

As Fitzpatrick die toernooi wen of selfs tweede eindig, sal hy as kampioen gekroon word, mits McIlroy nie tussen die top7 eindig nie.

Maar wie sal bereid wees om geld daarop te waag met Mcllroy wat al hoe beter speel en telkaarte met 71, 68 en 65 houe daarop ingedien het?

Die twee Suid-Afrikaners, Thriston Lawrence (219) en Oliver Bekker (220) is ver buite die wedloop in die toernooi met prysgeld van ʼn yslike US$10 miljoen (bykans R172 miljoen) vir Europa se 50 beste spelers op die spel.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se RSM Classic-toernooi wat by Sea Island in Georgia beslis word, loop die Amerikaners Ben Martin en Patrick Rodgers (albei 198, -14) met een hou voor die Kanadees Adam Stevenson en nog twee Amerikaners Andrew Putman en Sahith Theegala (almal op 199, -13).

Ses spelers is saam vyfde op 200 houe (-12).

Suid-Afrika se Dean Burmester (205) en MJ Daffue (206) is nie te ver agter nie, hoewel daar ʼn bottelnek van spelers voor hulle is.

* In die Amerikaanse LPGA se laaste toernooi wat by die Tiburon-gholfbaan in Florida beslis word, het die Ierse speler Leona Maguiure met 63 houe in die derde ronde die Nieu-Seelander Lydia Ko ingehaal.

Albei spelers slaan in die laaste ronde op 201 (-15) af om te bepaal of Ko, wat 70 houe in die derde ronde aangeteken het, as die wêreld se voorste vrouespeler sal afsluit.

Gemma Dryburgh van Skotland en Jeongeun Lee6 van Korea is saam derde op 206 (-10), vyf houe agter die voorlopers, met Brooke Henderson van Kanada en Anna Nordqvist van Swede saam op 207 (-9).

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai (216) het 68 houe in die derde ronde aangeteken wat haar tot die 40ste posisie laat opskuif het. Paula Reto is op 220 houe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.