Gholf: Fitzpatrick-broers bult hul spiere

Matthew Fitzpatrick. (Foto: Kevin C. Cox/Getty Images/AFP)

Die Engelse gholfspeler Matt Fitzpatrick het Vrydag by Crans-sur-Sierre in Switserland nie net ʼn groot verjaardaggeskenk vir homself losgespeel nie, maar sy hand opgesteek om een van die ses outomatiese keuses vir insluiting in die Europese span vir die komende Ryderbeker-stryd teen Amerika te wees.

Fitzpatrick het op sy 29ste verjaarsdag 65 houe in die tweede ronde van die Europese Meesters-toernooi aangeteken. Hy loop by die halfpadmerk met een hou (128, -12) voor Alexander Bjork (129, -11) van Swede.

Fitzpatrick se jonger broer, Alex, het ook sy ken uitgesteek en is slegs twee houe verder terug saam met die Fransman Romain Langasque in die derde posisie op 130 (-10), met Pole se Adrian Meronk, Renato Paratore (Italië) en Ludvig Arberg van Swede almal op 131 (-9).

As Matt Fitzpatrick die toernooi wen, sal hy sy landgenoot Tommy Fleetwood uit die sesde posisie (outomatiese kwalifisering vir die Ryderbeker) skuif.

Fleetwood sal egter deur Luke Donald, die kaptein van die Europese span, vroeg volgende week in sy span van 12 lede ingesluit word weens sy bestendige vertonings in die Amerikaanse PGA-reeks.

Van die Suid-Afrikaners het Hennie du Plessis, Oliver Bekker en JC Ritchie (al drie op 133, -7) baie goed gevaar, met Justin Walters (134) en Erik van Rooyen, Wilco Nienaber en Zander Lombard (al drie op 135) en Thriston Lawrence (136) ook in die wedloop.

* In die plaaslike Sonskynreeks het die 23-jarige Gerhard Pepler se senuwees gehou toe hy die aanslag van die 47-jarige veteraan Hennie Otto en James Hart du Preez in die derde en laaste ronde van die Gary en Vivienne Player-uitdaagtoernooi by die Witrivier-buiteklub afgeweer het.

Pepler het sy derde opeenvolgende 66 houe aangeteken en op 198, 15 houe onder die baansyfer, geëindig. Hy het sy oorwinning met ʼn arend op die 16de putjie en ʼn daaropvolgende voëltjie op die 17de verseker.

Pepler het twee houe voor Du Preez en Otto geëindig (200, -13).

Die ewe jong Kyle de Beer, wat in slegs sy derde toernooi in die Sonskynreeks afgeslaan het sedert hy ʼn beroepspeler geword het, het na die eerste twee rondes voorgeloop.

Maar sy senuwees het in die laaste ronde geknaag toe hy houe aan baansyfer op die 7de, 8ste, 11de, 12de en 14de putjies afgestaan en saam met Dylan Naidoo vierde op 201 (-12) geëindig het. Naidoo het houe op die 11de, 12de en 18de putjies afgestaan.

Merrick Bremner was sesde (202, -11), met Rhys West sewende (203, -10).

* In die Port Classic-toernooi vir vroue wat deel is van die Amerikaanse LPGA-reeks en in Oregon beslis word, het die Franse speler Perrine Delacour (130, -14) die voortou ná die tweede ronde geneem.

Sy is een hou voor Swede se Linn Grant (131, -13), met Amerika se Megan Khang derde op 132 (-12).

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai het 69 houe in die tweede ronde aangeteken en is saam 44ste op 139 (-5).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.