Gholf: Homa loop voor ná tien voëltjies

Max Homa (Foto: Form Golfer/Twitter)

Die Amerikaner Max Homa het Vrydagaand by die Olympic Fields-buiteklub in Illinois die wêreld se drie voorste gholfspelers in die skadu gestel toe hy tien voëltjies in die tweede ronde van die BMW-kampioenskapsreeks ingeryg het.

Homa, wat ses voëltjiesette oor die laaste nege putjies ingerol het, het 62 houe aangeteken. Homa, wat vanjaar reeds twee toernooie gewen het, het ʼn nuwe baanrekord opgestel en hy loop met twee houe (130, -10) voor sy landgenoot Chris Kirk (132, -8), met Engeland se Matthew Fitzpatrick en Brian Harman (wat die afgelope twee toernooie gewen het) saam derde 133 (-7).

Rory McIlroy van Noord-Ierland, die naasbeste speler op die wêreldranglys, het 70 houe aangeteken en het op 135 (-5) in die klubhuis geëindig. Die wêreld se voorste speler, die Amerikaner Scottie Scheffler (69), is saam met McIlroy en sy Amerikaanse landgenote Rickie Fowler (69), Harris English (67) en Justin Rose van Engeland (65) vyfde op 135 (-5).

Die Spanjaard Jon Rahm, wat derde op die ranglys is, het kleigetrap en 74 houe in die tweede ronde aangeteken. Hy is op 142 (+2) in die gesamentlike 32ste plek.

* In die Europese reeks en DP World Tour se Handa-uitnodigingstoernooi wat by die Galgorm-kasteel in Noord-Ierland gespeel word, het die kaarte reg geval vir die 28-jarige Engelsman Daniel Brown.

Brown, wat voor vanjaar nog net een keer in die DP World Tour,  in 2015 in die KLM-Ope, gespeel het, het 66 houe in winderige toestande in die tweede ronde aangeteken. Hy loop op 130 (-11) met ses houe voor Alex Fitzpatrick (die broer van die Engelse speler Matthew Fitzpatrick) en Angel Hidalgo van Spanje, wat albei op 136 houe (-5) geëindig het.

Hulle word in die  vierde plek gevolg deur die Deen Rasmus Meergard-Petersen, twee Engelse Eddie Pepperill en John Parry, asook die Skot Connor Syme wat almal saam is op 138 (-3).

Suid-Afrika se Wilco Nienaber het 68 houe in  die tweede ronde aangeteken en is op 140 (-1), met sy landgenoot Darren Fichardt (141) wat ook vir die laaste twee rondes gekwalifiseer het.

Maar hul landgenote Louis de Jager (145), Bryce Easton (146), Keenan Davidse (147), Thomas Aiken (149), Jacques Kruyswijk (150), Casey Jarvis (151) en Dylan Mostert (155) was nie so gelukkig nie.

In die vroue-afdeling loop die Amerikaner Marissa Steen op 142 (-3) met een hou voor Esther Henseleit van Duitsland, met Ryan O’Toole van Amerika, Olivia Cowan van Duitsland en Kim Metraux van Switserland saam derde op 144 (-1).

Suid-Afrika se Casandra Alexander het 75 houe in die tweede ronde aangeteken en op 146 houe geëindig.

* In die plaaslike Sonskynreeks se Sun Bet Challenge-toernooi wat by die Wingate Park-buiteklub in Pretoria gespeel is, het Malcolm Mitchell die toernooi oor drie rondes gewen toe hy op 202 houe (-14) geëindig het.

Louis Albertse (206, -10) was tweede, met Ryan van Velzen (207, -9) derde.

Luca Fillippi en Trevor Fisher (jr.) was saam vierde (208, -8), met Jean Hugo, Robin Williams, Quintin Wilsnach, Rupert Kaminsky, Rhys West en Jaco van Zyl almal saam sesde op 209 (-7).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.