Gholf: Jong speler wen op Sonskyntoer

Luke Brown (Foto: Christiaan Kotze, AFP)

Die 23-jarige Luke Brown (-12) het op die Sonskyntoer die Blair Atholl-kampioenskap in Johannesburg met twee houe gewen. Brown, van die Johannesburg-buiteklub, het in 2018 ʼn beroepspeler geword.

Hy het ʼn foutlose laaste ronde van 67 houe, vyf houe beter as die baansyfer, gespeel om die baie meer ervare Neil Schietekat (-10) te klop. Die Suid-Afrikaner Keagan Thomas was ʼn hou verder terug.

Thriston Lawrence (-7) het die beste ronde van die dag, 64 houe, gespeel om in die gesamentlike sesde plek te eindig.

Op die Europese toer by die Majorka-ope in Spanje kon die Suid-Afrikaner Bryce Easton (-10) nie verbeter op sy ronde 70 van gister nie. Hy het sy laaste ronde ook gelyk aan baansyfer gespeel om die toernooi in die gesamentlike sewende plek af te sluit.

Dit het aanvanklik gelyk of Easton die voorlopers skrik gaan maak ná twee voëltjies oor die eerste nege putjies. Brouhoue op die tiende en elfde putjies het egter die einde van sy opmars beteken.

Die Deen Jeff Winther (-15) het sy eerste toernooi op die Europese gholftoer met een hou gewen. Hy het die laaste putjie met ʼn voorsprong van twee houe afgeslaan en selfs ʼn brouhou kon nie sy pret bederf nie. Die Spanjaarde Pep Angles en Jorge Campillo was saam met Swede se Sebastian Söderberg een hou agter Winther in die tweede plek.

Easton se landgenoot Jacques Kruyswijk (-7) was in die gesamentlike sestiende plek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.