Gholf: Louis begin sy vakansie op hoë noot

Louis Oosthuizen (Foto: Quinn Harris/Getty Images/AFP)

Louis Oosthuizen het al baie groot hoogtes in sy gholfloopbaan bereik, soos sy oorwinning in die Britse Ope in 2010.

Hy het die Suid-Afrikaanse Ope al vantevore gewen, was tweede in die Amerikaanse Ope, Amerikaanse Meesters en Amerikaanse PGA en was in ʼn stadium vierde op die wêreldranglys.

Hy is boonop die kaptein van die Stinger-span in die geldryke LIV-reeks.

Maar die 41-jarige Oosthuizen kon sedert 2002 toe hy ʼn beroepspeler geword het, nog nooit twee opeenvolgende oorwinnings behaal nie. Dit het alles Sondag verander met sy oorwinning in die Mauritius Ope.

Oosthuizen, wat verlede Maandag die Alfred Dunhill-kampioenskap op Leopard Creek gewen het, het die Mauritius Ope op die La Réserve Golf Links-baan met twee houe gewen.

Dit was ʼn baie spesiale oorwinning, want dit was op ʼn baan wat hy slegs ʼn paar jaar gelede saam met die argitek Peter Matkovich ontwerp het.

Wat Oosthuizen se oorwinning nog soeter gemaak het, was dat sy vrou en kinders die eerste keer saam met hom op die baan in sy oorwinning kon deel.

Oosthuizen het op 271 houe (-17) geëindig en het die Engelsman Laurie Canter (273, -15) met twee houe uitgestof.

Swede se Sebastian Söderberg, wat 63 in Sondag se laaste ronde aangeteken het, het saam met Daniel Brown van Engeland en Suid-Afrika se Jacques P de Villiers derde geëindig op 274 (-14), met Suid-Afrika se Jayden Schaper op 275 (-13).

“Hierdie twee toernooie, die Alfred Dunhill-kampioenskap en die Mauritius Ope, sal na alle waarskynlikheid nou deel van my toernooi-skedule word en van nou af is dit ʼn baie lekker manier om my vakansie te begin,” het Oosthuizen ná sy sege gesê.

Wie sal nou daaroor kla, veral met ʼn bankbalans wat met meer as R8,83 miljoen binne twee weke aangegroei het?

*  Op die Ritz-Carlton-gholfbaan in Orlando, Florida, het die Duitse veteraan Bernard Langer en sy seun Jason die PNC-toernooi (voorheen die pa-en-seun-toernooi) gewen nadat hulle in die tweede en laaste ronde 59 houe aangeteken het en op -25 geëindig het.

Dit was hul derde oorwinning in die toernooi en ʼn vyfde sege vir die 66-jarige Langer, nadat hy ook voorheen saam met een van sy ander seuns geseëvier het.

Span David Duval was tweede (-23), met span Vijay Singh derde (-22), span Retief Goosen (-21) vierde en die spanne van Tiger Woods, John Daly, Matt Kuchar, Tom Lehman en Stewart Cink saam vyfde op -19.

Langer en sy seun se prysgeld oor die twee dae was R3,.6 miljoen, terwyl Retief Goosen en sy seun Leo sowat R940 000 gewen het.

Bronne: Sonskynreeks en Golfweek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.